Afrikaanse sanger stel nuwe musiekvideo vry
Die langverwagte musiekvideo van hierdie aangrypende treffer het reeds die musiekwêreld aan die gons.

“Ek is gebou, jy is gebou en die Wêreld binne my is in afwagting oor jou. Kom hardloop deur my woude, kom swem hier in my see. Wees somer oor my berge, want dis hier waar jy regeer – ek in jou en jy in my…” is lirieke uit Joshua na die Reën se liedjie, “Die wêreld binne my” wat in 2016 vrygestel is as titelsnit van hierdie bekroonde musikant se tweede album.
Lees ook: Skrywer se seun bring boek na grootskerm
Die langverwagte musiekvideo van hierdie aangrypende treffer is pas uitgereik en het reeds die musiekwêreld aan die gons.
Die liedjie, wat eie is aan die unieke kontemporêre klank waarvoor Joshua na die Reën bekendheid en talle toekennings verwerf het, is ’n mengsel van roerende lewenswaarhede en meesleurende melodieë. Dit was uit die staanspoor gewild en is onlangs aangewys as GrootFm se grootste treffer vir 2016.
Lees ook: Local business to support blood drive
“Die beste verstaan wat ek van die lewe het, is dat elkeen van ons op verskillende maniere in jare grootword. Dit bepaal hoe ons voel, hoe ons leef, hoe ons na verskillende dinge kyk en dit dan probeer verstaan. Dit alles skep ’n wêreld binne elke mens op aarde, elkeen wat al ooit geleef het en ooit sal lewe. Ek dink ’n groot fout wat ons, as mensdom, deur die eeue gemaak het was om mekaar se wêrelde te oordeel en dit in klasse te plaas. Die boodskap agter die liedjie is dat almal se wêreld gelyk is en dat almal se siening oor die lewe van waarde is. Ek glo dat as ons die wêreld so begin benader, ons werklik die mooi in die lewe sal raaksien! Want ek glo dit is wat God droom. Hy wil hê dat die mensdom in eenheid en vrede moet leef, ten spyte van verskille,” vertel hy.
Lees ook: Skrywer se rolprent draai binnekort in teaters
Omdat “Die wêreld binne my” die sanger so na aan die hart lê, wou hy iets baie spesiaal doen om die boodskap op ’n treffende manier op die skerm vas te vang.

Die video, wat deur Daville Films & Photography vervaardig is, is in November en Desember in verskillende dele van Murraysburg, Magoebaskloof en Kleinmond geskiet.

“Die wêreld binne my” se musiekvideo kry dit reg om die hoendervleismooi kombinasie van die sanger se fluweelstem en die meesleurende klank van die instrumente te verweef met natuurtonele wat jou asem sal wegslaan.
Die eindresultaat is so treffend dat dit aanhangers se harte weer opnuut sal verower.
Vrygestel deur Starburst Promotions
Foto’s deur: Jean de Villiers
Sien gallery van agter die skerms:

























