Local newsNews

Kabouters bederf graag bejaardes

Kleuters het gesing en gedans en spesiale verjaarsdagwense is verlede Donderdagoggend tydens Argentum Corona se byeenkoms oorgedra.

MALALANE – Klouter Kabouter het verlede Donderdag die lede van Argentum Corona na die NG Kerksaal genooi vir oulike vermaak en heerlike versnaperings.

Die nie-winsgewende organisasie se lede kom twee keer per maand bymekaar en verskillende sakeondernemings, skole en individue maak beurte om dit aan te bied.

Klouter Kabouter se eienaar, Wilma Wolmarans, het uit 1 Korintiërs 13 voorgelees en vertel dat liefde die suurstof van God se koninkryk is. Sy het die gaste aangemoedig om liefde en die vrug van die Gees uit te leef.

Daarna het ‘n groep seuntjies hulle lywe superhelde gehou en op Eden se “Super Hero” gedans. ‘n Paar het meer daarin belanggestel om van die verhoog af vir die gehoor te waai as om hul danspassies uit te voer. Die meisies het daarna kliphard en met ywer met Aqua se “Barbie Girl” saamgesing en gedans.

Lees: Lappop vind haar held tydens kleuterkonsert

Tannie Nén Richards, wat Sondag 86 jaar oud geword het, is daarna met ‘n spesiale geskenk bederf as deel van die groep se tradisie om verjaarsdae te herdenk. Sy is tans die oudste lid van die organisasie.

Argentum Corona se oudste lid, Nén Richards, saam met Joachim Schulz
en voorsitter Marie Coetsee.

Daar was ‘n paar glimlagte toe bestuurslede vertel dat Joachim Schulz eintlik die oudste lid is weens ‘n fout op sy ID. Volgens die dokument is hy in die 1800’s gebore.

Gaste kon daarna aan kleinbordjies gepak met heerlike eetgoed smul en saamkuier.

Die groep bedank graag die gasvrou en al haar helpers vir hul gasvryheid en bydraes. Enige skool, organisasie of individu wat graag so ‘n geleentheid wil aanbied, is welkom om die voorsitter, Marie Coetsee by 082-824-4103 te skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button