Ploeg terug met jou pret-pet
Innibos, in samewerking met Laevelder, neem vanjaar sy betrokkenheid by die plaaslike gemeenskap ’n stappie verder met die stigting van ’n gemeenskapskas.

Die eerste rande gaan in die “Innibos-trommel” tydens die Minibos-makietie Vrydag, 19 Mei, by Hoërskool Bergvlam rol. Hoewel dié loodskonsert en programbekendstelling van die kunstefees gratis is, word partytjiegangers gevra om elkeen vir slegs R10 ’n pret-pet te koop en so by te dra tot die nuwe gemeenskapskas.
Die bloedrooi pret-pette is “hoede” van geknoopte ballonne en net die manier om die partytjiegees vir die aand aan te wakker.
Media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, Sandra Jacobs sê vorige jare het feesgangers bydraes soos onder meer troeteldierkos, boeke en blikkieskos gemaak.
“Die pet-prette is ’n manier om te wys hoe jou hart klop vir ons gemeenskap, so moenie uitgevang word sonder een nie.”
Jacobs sê voorts Innibos wil, in pas met die feestema vanjaar, welwillendheid ’n stappie verder neem met die stigting van ’n meer formele fonds wat vir plaaslike welsyn en behoeftes gebruik kan word. Dié fonds is ook die ideale platform om regstreeks by te dra tot welwillendheidsprojekte, veral vir kleiner plaaslike maatskappye en instansies wat iets in die gemeenskap wil terugploeg.
“Met die Innibos-trommel wil ons help om mense en organisasies wat dit regtig nodig het ’n hupstoot te gee, en die beste manier volgens ons is om dit deur die gemeenskap vír die gemeenskap te doen,” sê Jacobs.
“Daar is altyd gaatjies wat toegestop moet word, en ons hoop om daadwerklik daarmee te help.”
Vir meer inligting oor hoe om betrokke by die trommel betrokke te raak, skakel Innibos by 013 741 5294 of stuur ’n e-pos na sandra@innibos.co.za.

