Potjiekompetisie van Unigrad help diere voer
Unigrad het 31 Maart 'n potjiekoskompetisie aangebied met die doel om fondse vir Pro-Life in te samel.
Studente het in hul fakulteitsgroepe teen mekaar meegeding met ‘n potjiekoskompetisie. Die groep van grafiese ontwerp was groot genoeg om in twee te verdeel en het as Sauce Mansion 1 en Sauce Mansion 2 bekendgestaan. Hulle het met karakters soos Hugh Heffner en sy Playboy-metgeselle gespog en het die hele oggend saamgesing.
Menslike hulpbronne se groep, bekend as die OG’s het gespog met ‘n lekker klankstelsel en ‘n lekkerder hoenderkerriepotjie.
Die Ghetto Crew het bestaan uit studente van besigheidsbestuur, en hulle het ‘n veelkleurige Afrika-tema vir hul klere en potjie gekies. Ander groepe sluit in, Soundwaves, die musiekgroep en Magic Minions, die toerisme- en veldgidsstudente.
Sauce Mansion 2 het die geeskategorie gewen, die OG’s het die beste potjie opgedis en die Getto Crew is as algehele wenners gekroon.
Ná die kompetisie het die groepe hulle potjiekos teen R30 per bakkie aan die publiek verkoop. Teen die einde van die dag het die studente meer as R1 000 ingesamel. Unigrad het ‘n skenking van ‘n gelyke bedrag beloof sodat daar uiteindelik meer as R2 000 beskikbaar was om kos vir die diere by Pro-Life aan te koop en te skenk.












