Local newsNews

Jongman se familie hoopvol vir sy herstel

Daar word op 4 Mei 'n gholfdag by Nelspruit Gholfklub ten bate van Kunz gehou.

HAZYVIEW – Ongeveer ‘n maand nadat oudinwoner mnr. Rudi Kunz tydens sy 30ste verjaarsdagviering in die bodem van Klaseriedam vasgeduik het, sterk hy goed aan en begin selfs om beweging in sekere dele van sy lyf terug te kry.

Of hy wel ten volle gaan herstel, bly onseker, maar dokters en sy familie bly hoopvol nadat hy onlangs suksesvol geopereer is. Kunz en sy vriende het op 1 April by Klaseriedam bymekaargekom om sy verjaardag te vier.

Toe hy laatmiddag in die dam duik om by sy vriende aan te sluit, moes hulle kort daarna toekyk hoe sy jonger broer sy beweginglose lyf uit die water trek. Die water was vlakker as wat Kunz gedink het en dié misrekening het veroorsaak dat hy ernstige beserings aan sy nek- en rugwerwels opgedoen het wat hom heeltemal verlam het.

Hy is inderhaas na Mediclinic Nelspruit geneem, waarna hy na Netcare Garden City in Johannesburg verplaas is, waar hy tans intensiewe behandeling ondergaan. “Hoewel hy goed aansterk, is dit nog onbekend of hy permanente skade opgedoen het,” het sy vriendin, Melissa Swan gesê. “Hy wys klein verbeteringe en ons dank die Here daarvoor.”

Kunz het sy skoolloopbaan by Laerskool Numbi begin, gevolg deur Hoërskool Nelspruit waar hy gematrikuleer het. Sy ouers, Johan en Annemarie woon steeds in Hazyview. Die gemeenskap het reeds hulle harte oopgemaak en groot pryse is op die spel – van ‘n week vir 10 mense in Barra, tot luukseverblyf in Klaserie Sands en interaksie met olifante by Elephant Whispers. Navrae: 013-744-0952.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button