Onderbergers deel ervaring van ‘Dis tyd’-gebedsbyeenkoms
'n Paar plaaslike gesinne was onder die byna 2 miljoen Suid-Afrikaners wat op 22 April in Bloemfontein vergader het om vir die land te bid.
KOMATIPOORT – Duisende kilometer is die naweek na die plaas Wildeals, naby Bloemfontein afgelê vir Angus Buchan se It’s Time-biddag vir Suid-Afrika. ‘n Paar plaaslike gesinne, insluitend die joernalis, was ook onder die meer as 1,7 miljoen mense wat Saterdag saamgebid het.
JSL Transport van Komatipoort het ‘n bus beskikbaar gestel, sommige familie en vriende het per motor gereis, ander per helikopter en iemand het selfs besluit om ‘n 10-dag-pelgrimstog per fiets daarvan te maak.
Dit was ‘n ongelooflike reis – oral was daar motors met die kenmerkende It’s Time-plakker, busse vol mense, motorfietse met kampstoeltjies, almal duidelik op pad na dieselfde bestemming.
Die organisasie van die grootse geleentheid getuig van een wonderwerk op die ander. Buchan se Mighty Men-byeenkomste word oor ‘n tydperk van ‘n jaar gereël. It’s Time is binne ses weke gereël.
Die byeenkoms het gevolg op ‘n boer se desperate uitroep na “oom Angus” en ander geestelike leiers om die volk byeen te bring om vir ons geliefde land te bid. Buchan het gaan bid oor die saak, besluit dat ‘n biddag gehou sal word en hulp het van oral ingestroom.
Sewentien omliggende plase het grond vir die parkering van sowat 350 000 voertuie aangebied. Miljoene rande is bestee om alles gereed te kry, tog is daar nie eers ‘n offerande opgeneem nie. Alles was gratis, selfs die parkering. God het voorsien.
Van vroegdag af het mense ingestroom en hul plekke ingeneem. Ons groep het kort voor 08:00 daar aangekom en moes toe reeds tevrede wees om so 100m van die verhoog af sitplek te kry.
Daar was klanktorings oral op die terrein, met groot skerms en altesaam 600 luid-sprekers sodat almal kon sien en hoor, ongeag waar jy sou sit.

Die gees onder die mense was iets om vir altyd te koester. Daardie wete in jou hart dat “ons deel is van mekaar, ons is een, een van geloof, ons veg vir dieselfde saak, ons soek vrede en harmonie en geregtigheid in Suid-Afrika”.
Die verrigtinge het nie 12:00 begin soos beplan nie, weens die massas wat nog op pad was, en dit is met ‘n uur uitgestel. Bekendes soos Musi Maimane, Kenneth Meshoe, Heinz Winkler, Frans Cronjé was ook teenwoordig.
Die verrigtinge het met die volkslied begin en Buchan het daarna die skare in gebed gelei.
Knielend in die stof, sommige met trane op die wange, het meer as ‘n miljoen mense gebuig en hul sonde bely en gevra dat God ons land sal red en genees.
Geen politiek is gepraat nie. Mense van verskillende rasse het hande gevat en gebid vir ons regering en teen dinge wat ons land lamlê soos korrupsie, rassisme, geweld, moord, verkragtings en haat.
Daar is ‘n beroep gedoen dat elkeen by hul eie huise en gemeentes begin en moet bid. Christene is gemotiveer om nee te sê vir en op te staan teen ongeregtigheid wat dreig om ons almal en ons land te vernietig. Positiewe denke is aangemoedig en mense is herinner dat by God niks onmoontlik is nie.
In die heilige atmosfeer wat daar geheers het, het die wind skielik vanuit nêrens begin waai, ‘n warrelwind veroorsaak, asof God net wou bevestig dat Hy teenwoordig is en sy mense raaksien en hoor.
Die skare is gevra om die plek netjies te laat “want Ollie le Roux, voormalige Springbokrugbyspeler en eienaar van Wildeals, moet more weer verder boer”. Dit is merkwaardig dat daar nie eers een papiertjie te vinde was op die pad van twee- en-‘n-half kilometer na ons voertuig nie.
Na die diens afgesluit is, het sommige bly sit, ander het die piekniekmandjies en gasbraaiers uitgepak en heerlik saamgeëet en gekuier. Ons voertuig het sowat ‘n uur gewag om in die ry te kom net om by die hek uit te kom en was drie-en-‘n-halfuur later op die N1. Daarna was dit vier ure se reis na Parys, waar ons tuisgegaan het.

Bloemfontein en omgewing het ‘n onverwagse ekonomiese inspuiting met hierdie geleentheid gekry. Die meer as ‘n miljoen mense het geld saamgeneem na ‘n provinsie wat deur droogte geknel is.
Daar word geskat dat daar net aan akkommodasie in die stad, sowat R100 miljoen bestee is. Omliggende dorpe kon sowat R30 miljoen baat gevind het.
Daar word met afwagting uitgesien na die gevolge wat hierdie byeenkoms vir ons land mag inhou. Mense is verander, hulle geloof is herstel en opgebou en daar is nuwe hoop vir die toekoms.
