Bekende Van Reenen laat ‘n groot leemte
'n Groot gees in Laeveldse wildbewaring-, jagter- en toerismekringe is die afgelope naweek dood.

MBOMBELA – Die veelsydige Van Reenen van Vuren was ook ‘n meesterverteller, wildlewekunstenaar en die skrywer van twee boeke oor sy ervaringe in die bos.
Van Reenen was 78 en laat sy vrou Agnes en twee seuns, Van Reenen en Louwtjie, agter. Hy was ‘n boorling van die Vrystaat maar het in die ou Rhodesië, (later Zimbabwe) en die Oos-Transvaalse Laeveld grootgeword. Hy het aanvanklik as ‘n natuurbewaarder in die suidelike deel van die Nasionale Krugerwildtuin gewerk.
Sy avonture uit hierdie tydperk word kleurryk vertel in sy eerste boek, Lebombo Journals wat in 2007 verskyn het. Veral onder lede en belangstellendes in die wild- en jagbedryf is die boek besonder goed ontvang. Sy tweede bundel, Fox Terriers and Mausers het sowat drie jaar gelede verskyn en maak van die beste streeklektuur oor die oostelike Laveld.

Van Reenen is in 1970 as die eerste wildbewaarder van die pasgestigte Klaserie Private Nature Reserve aangestel. Hy was ook ‘n gesoute grootwildjagter. Sy vertellings van jagavonture om die boskampvure – dikwels in die fynste Engels, het hom internasionaal gesog gemaak onder buitelandse jagters en besoekers.
LEES OOK: Weesboelie kry liefdevolle huis na plaasaanval
‘n Jare lange vriend en iemand wat Van Reenen uit sy kinderjare ken is die plaaslike makelaar, Johann van Zyl. Hy sê talle van die staaltjies en stuitighede rondom Van Reenen moet liefs nie so vlak na sy dood hier herhaal word nie. Meeste daarvan is egter oopgeteken in sy boeke. “Hy was ‘n man naby aan die Afrikabos, soms roekeloos, maar ook besonder gekultiveerd. Iemand wat eintlik in vroeëre tydperk moes geleef het,” sê Van Zyl.
Later jare het Van Reenen en sy vrou die gasteverblyf, Rio Dos Elefantes River Camp in die Balule Natuurreservaat op die walle van die Olifantsrivier anderkant Hoedspruit bedryf. Hy het nog graag sy vriende hier onthaal en het so onlangs as verlede week laat weet ons moet kom kuier. Hier het hy ook sy ateljee gehad waar hy graag tyd agter die esel deurgebring het.
Dis ook hier in Balule by waar hy vroeg Maandagoggend aan ‘n hartaanval dood is. Sy mense beoog net ‘n klein private byeenkoms met sy verassing, waarna die familie ‘n boom ter herinnering aan hom sal plant.
LEES OOK: Three days to spare? Why not spend it here…
