Pret en plesier gedy by gatskop afskop
Hierdie jaar se Minibos-makietie was 'n sensasie wat nie misgeloop moes word nie.

MBOMBELA – Die weer was effe aan die koel kant, maar die atmosfeer was elektries. Die Campbells het almal se voete laat juk met hulle kenmerkende musiek en die atletiekbaan het met lewe gebruis toe Kurt Darren op die verhoog stap. Seker die helfte van die gehoor het opgespring om op sy treffers te sokkie. Pieter Koen het met sy geskerts met die gehoor en medekunstenaars die partytjiegees onder oud en jonk aangeblaas.

Rooi spatsels is oral op die feesterrein in die gees van die #Rooirokbokkie-kompetisie opgemerk. Hoewel dit ‘n taai kompetisie was, is die wenner welverdiend aangewys: Lyzelle van Wyk is ‘n ywerige ondersteuner van Innibos en is mal oor die idee dat dit soveel verskillende mense jaarliks bymekaar bring. Dié onderwyser van Kingdom Kids Academy sê dié jaar staan die skoolhoof 100 persent agter haar, en hulle het besluit om die dorp rooi te verf, by wyse van spreke. Lyzelle doen al optredes vir die afgelope 11 jaar, en weet als van optree en die kalklig, om nie eers te praat van grimering en mooi aantrek nie.

Die geur van braaivleis het die monde laat water. Die braaikompetisie self, onder toesig van die bekende persoonlikheid en kosguru, Jan Braai het vyf spanne gehad wat teen mekaar moes meeding om die kroon te wen. Kameraadskap en geskerts tussen die spanne en deelnemers was aan die orde van die dag, terwyl bier en wyn amper so vrylik soos die gesprekke gevloei het.

Natuurlik sal daar altyd wedywering in so ‘n situasie wees. Wie doen dit beter? Wie het die beste marinaderesep? Wie maak die beste pap en sous? Hierdie kwessies was natuurlik alles deel van die aksie, en almal het saamgespan om hul insette, advies en wenke oor hoe om die Braaimeester te wees, aan te bied. Die Rudamans, gelei der Wayne Jackaman is as die wenners aangewys.
Laevelder verneem dat die koerant se eie Stefan de Villiers, die tweede plek met sy tandoori-hoender ingepalm het. Jan het verder vermeld dat elk van die vyf finaliste se resepte in sy nuwe kookboek opgeneem gaan word, so heerlik was almal.

Terwyl dit als aan die gang was, was die kinders besig om hulle gate uit te geniet. Hulle het gehardloop, wa-wiele gemaak, met ‘n bal gespeel en mekaar gejaag, saam gedans en na hartelus gesing. Dit het amper gelyk of hulle die geleentheid meer geniet het as die grootmense. Stoele en piekniekmandjies is uitgepak en komberse is oor die grond oopgegooi.
Oraloor die veld is helder rooi pret-pette op oud en jonk se koppe gesien. Zippy die hansword is kort-kort opgemerk waar hy mense met sy lawwigheid vermaak het. Mense het van heinde en verre aangekom om die aanloop tot ons eie fantastiese fees, Innibos te geniet. Dié fees is as die beste in Suid-Afrika aangewys.

Die wenner van die #Rooirokbokkie- kompetisie, Lyzelle van Wyk het laggend vertel hoeveel pret die geleentheid was, en aangesien sy die hele pad van die moederstad af kom, was dit ‘n groot kompliment. “Dit is ongelooflik! Ek het nooit verwag dat die opkoms so groot sou wees nie. Ek het die hefte van die mense verwag. Almal geniet dit so, ek kan nie wag vir Innibos nie, ek kom beslis terug,” het sy vertel.
Die Minibos-makietie was inderdaad ‘n openbaring. Mense van alle agtergronde het byeengekom om hulle in die Laeveld se gasvryheid te verlustig. As hierdie geleentheid die toon aangegee het, beloof vanjaar se Innibos om die beste een nog te wees.

• Kaartjies vir die fees, wat van 5 tot 8 Julie by Hoërskool Bergvlam plaasvind, is by Computicket beskikbaar.
