Lag-lag een van die lekkerste aande wag
Sommige komediante se name hoef net genoem te word, dan begin die mense al lag. As daar boonop vier van die beste draakstekers in die land op een slag ervaar kan word, moet jy weet jy gaan skater.

MBOMBELA – Die Lekkerlag Komedie-crawl word vanjaar vir die eerste keer by Innibos aangebied. Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder sê omdat die Sappi Boeke- en die kykNET Kos-crawl so gewild is en dit so kenmerkend van Innibos se programaanbieding is, het hulle besluit om ‘n komedie-crawl ook in te sluit.

“Maar ja, daar is ‘n hardebaard-ouderdomsbeperking van geen o/18’s, want ‘n mens weet nooit of die wag voor die komediante se monde saam fees toe kom nie…” skerts sy. Die vier komediante is Dowwe Dolla, Schalk Bezuidenhout, Soli Philander en Casper de Vries.

Almal weet Dolla is glad nie so dof as wat sy wil voorgee nie, en uit daardie lolliepopmond vlieg die kommentaar behoorlik soos kartetse. Casper de Vries mik met groot selfvertroue soms lekker laag, terwyl die jongste in die lag-kraal, Schalk Bezuidenhout, die afgelope jaar of twee teen die spoed van wit lig opgang gemaak het.

Soli Philander is jare reeds op die toneel, met ‘n satiriese tong wat nog nie ‘n tikkie van sy skerpheid verloor het nie. Hy self hou baie van die komedie-crawl se formaat. “Die gehoor kry darem kans om so bietjie asem te skep tussen die verskillende komediante en net te verteer wat hulle ore laat tuit het.

Dit help ook dat daar kans is om keel nat te maak tussen-in,” sê hy. Suid-Afrika, en veral die politiek, is ‘n skatkis vir komediante. “Wel, dis óf lag vir die politiek, óf ween aaneen. Ek dink wel daar is ‘n behoefte onder gehore vir lekker lag oor die alledaagse ook, die eenvoudige goed… lekker saamlag, nie net lag vír iemand nie.”

Soli was jare gelede by Innibos – “dit was nog met Afrikiti” – en hy sien daarna uit om weer met oorgawe in die Laeveld verwelkom te word. “Ek onthou dit as ‘n kunstefees waarheen mense kom om hulself te geniet, en hulle is glad nie skaam om dit te doen nie!”

Om die lagspiere sommer van meet af te kielie, sal elke crawler ‘n doppie-koppie kry wat Distell sal volhou. Daar is ook ‘n kontantkroeg beskikbaar vir diegene wat ‘n ander drankie wil geniet. Sit maar genoeg tyd opsy vir die Lekker-lag Komedie-crawl.

Dit vind Vrydag 7 Julie by Ingwenyama Lodge naby Witrivier plaas. Die vertoning is 240 minute. Die busse na Ingwenyama Lodge vertrek om 16:00, 17:00 en 18:00 van die NG Kerk Westergloed in Koraalboomlaan. Die volledige program is by innibos.co.za en kaartjies is by Computicket beskikbaar.

Casper de Vries Venue: Boma-kuierteater Datum en tyd: Wo 5 Jul, 15:00; Do 6 Jul, 17:00; Sa 8 Jul, 16:00 Geen o/16 Toneel: Komedie.
#dowwedolla Met Margit Meyer-Rödenbeck Gradering: Geen o/13 (Ouma Dowwe Dolla gebruik gekruide taal) Datum en tyd: Di 4 Jul, 19:00, Wo 5 Jul, 19:00, Do 6 Jul, 11:00 Venue: Stuttaford Laeveld Laerskool Tydsduur: 80 minute Prys: R127.
Voksbesit Met Schalk Bezuidenhout Gradering: Geen o/14 (T) Datum en tyd: Sa 8 Jul, 12:00 Venue: Lowveld High School Tydsduur: 75 minute Prys: R127.
