Titel glip net-net deur dorp se vingers
Die publiek het toe vir hulle gunstelingdorp gestem, maar net-net nie genoeg om Mbombela as die land se gunsteling te verklaar nie.

MBOMBELA – Die SMS-stemme in kykNET Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie het ingestroom en Mbombela is aanvanklik as een van agt streekswenners aangewys.
Na nog ‘n ronde stemmery het die provinsie se hoofstad uiteindelik saam met Barkley-Oos en Mosselbaai na die finale ronde deurgedring waar laasgenoemde as die wenner aangekondig is.
Kwêla-aanbieder, Therese Benade het vermeld dat dié jaarlikse kompetisie vanjaar ‘n rekordgetal stemme gekry het en dat Mbombela (Nelspruit) glad nie te ver agter die uiteindelike wenner was nie. Slegs 400 stemme het die verskil gemaak.

Linda Pieters, voormalige bemarkings-bestuurder by Laeveld Media, het almal wat deelgeneem en die veldtog ondersteun het, bedank. “Ons moes ongelukkig die titel aan Mosselbaai afstaan, maar dit was ‘n baie positiewe veldtog.
“Ons het net nie genoeg stemme getrek nie.” Sy het veral die private sektor vir hulle bystand bedank, asook die skole en maatskappye wat fondse bewillig het om die publiek en leerders aan te spoor om te stem. Natuurlik was elke individu wat gestem het se bydrae van onskatbare waarde.
“Ons sou nie sonder hulle so naby kon kom nie,” het Pieters gesê. “Baie dankie aan almal.” Elkeen wat 30 keer vir Mbombela gestem het, se naam gaan aan ‘n gelukkige trekking deelneem waarin ‘n heerlike wegbreek na Pestana Kruger Lodge op die spel is. Dit sal eersdaags in Laevelder aangekondig word. Hou die koerant dop, dit kan jy wees!


