Local newsNews

Jong, energieke Altaar vertel almal se stories

Die inspirasie vir die debuutproduksie, Altaar by die Innibos-kunstefees (5 tot 8 Julie) was enersyds woede en andersyds 'n gevoel dat die jong stem in Afrikaanse teater nie sterk verteenwoordig word nie.

MBOMBELA – Hennie van Greunen, medeskrywer en -regisseur van dié toneelstuk saam met Nico Scheepers, verduidelik: “Ons is woedend oor wat gebeur in ons land, aan alle kante.

”In ons ervaring is daar baie meer liefde en ooreenkomste tussen al die mense as wat die politici wil hê ons moet glo.” Daarby is die eiesoortige manier waarop jonger mense met kwessies omgaan, insgelyks inspirerend.

In kort handel Altaar oor sewe jong mense, Model C-born frees, wat vir oulaas gaan stap in die Sederberge voordat hulle lewens verskillende rigtings inslaan. Daar is nie selfoonontvangs nie, geen Wi-Fi nie. Hulle word deur ‘n storm in ‘n grot vasgekeer en die jongklomp maak soos hulle generasie doen wanneer ‘n krisis opduik; hulle hou partytjie.

Andre Terblanche

Maar mettertyd word dit méér en probeer die sewe hulle plek in dié land vind teen die agtergrond van hul geskiedenis, drome en ook woede.

“Die kwessies is dalk geklee in meer hipster-ish klere, maar vir my bly dit meestal dieselfde: die stryd om die beste individu te word wat jy kan; die sekerheid dat jou generasie ‘n beter job gaan doen as jou ouers s’n; die sekuriteit om in jou eie land, in jou eie huis met jou eie gesin te woon. Wat die jong generasie wel uniek maak, is dat hulle onmiddellike resultate soek.

Dit is tegelyk vreesaanjaend en vol belofte,” sê Hennie. In die rolverdeling is Christia Visser, Crystal-Donna Roberts, Carla Smith, André Terblanché, Oarabile Ditsele, Heinrich Franse en Sive Gubangxa. Volgens Hennie is hy “diep opgewonde” oor die mengsel ervare en minder ervare spelers.

Carla Smith

Sive, wat aan die Universiteit van Kaapstad studeer het, het twee jaar gelede die Fleur du Cap-prys as belowendste student ontvang en speel tans in Pieter Toerien se The Play that goes wrong. Crystal-Donna en Hennie het voorheen saamgewerk aan Rondomskrik en sy speel ook die hoofrol in die fliek Krotoa wat binnekort bekendgestel word, terwyl André volgens Hennie een van die beste triple threats is: “Hy is ‘n uitstekende akteur en danser en het ongetwyfeld een van die beste stemme van sy generasie.”

Oarabile is van die Noord-Kaap, het aan Ikeys studeer en pas ‘n speelvak van Athol Fugard se My Children, My Africa in Johannesburg voltooi. Christia is by uitstek bekend as film- en TV-aktrise en het veral in die naamrol in die fliek Tess internasionaal aandag getrek, terwyl Carla, ‘n dramastudent aan Maties, reeds Hennie en Nico se oog gevang het in skoleteater “waar haar talent soos ‘n lig geskyn het”. Heinrich was die vonds uit 80 oudisies. “Sy stem en teenwoordigheid maak hom een van die opwindendste akteurs wat ek die afgelope vyf jaar ontmoet het.”

Christia Visser

Hennie en Nico het die eerste keer verlede jaar saamgewerk aan ‘n omgewingspesifieke toneelstuk gebaseer op skrywer Fanie Viljoen se boek, Pleisters vir die dooies in opdrag van die Vrystaat-kunstefees. Dié samewerking was vir albei so bevredigend dat hulle weer ‘n nuwe projek saam wou aanpak. “Ons style vul mekaar goed aan. Nico is, kenmerkend van die jongeres, ontsettend sterk visueel ingestel, terwyl ek meer op die woord fokus – ek weet wat elke leesteken vermag, waar daar langs stiltes moet wees.”

Hulle het besluit om vir elk van die sewe spelers ‘n storie te skryf en dit aaneen te vleg. “Die onderskeie stories wissel van komedies tot rillers en fabels, en die tydspronge is van oertye tot 2087. Maar al die stories word verbind deur die menslikheid wat ons land en sy mense so uniek maak.”

Crystal Donna Roberts

Daar is sterk visuele elemente, en Pedro Kruger is verantwoordelik vir die musiek, wat meestal a cappella-stemwerk is. “Jy het nog niks gehoor as jy nie dié sewe mense hoor sing het nie,” sê Hennie.

Om die jonger generasie na teater te lok, moet dit ‘n aktiewe eerder as passiewe ervaring wees, meen hy voorts.

“Maak stories wat hulle meesleur en identifiseer met daardie ou of meisie se struggle. Maar ek dink ook goeie stories is generasie-proof.”

Altaar is ‘n voorgelê aan die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (Nati) wat onder meer ten doel het om Afrikaanse toneelstukke se speelvakke te verleng. Innibos- en die Vrystaat-kunstefees het albei in dié stuk belê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button