Boerneef herleef lekker loslit en lig
Die skrywer, digter, leksikograaf en akademikus, Boerneef, laat 'n skatkis van prosa en poësie agter na sy afsterwe in 1967. Nou, 50 jaar na sy dood, word Boerneef in woord en klank in die produksie Flennie die Snare by die Innibos- kunstefees vereer. Dit is 'n sterbelaaide rolverdeling en kreatiewe span.

MBOMBELA – Chris Chameleon, Anna Davel, Johny Klein en Daniella Deysel deel die verhoog met Jaconell Mouton (musikale regisseur), Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg. Frans Swart het die teks geskryf en hanteer ook die regie.

Boerneef, die skrywersnaam van Izak Wilhelmus van der Merwe, was in die dertigerjare as een van die leidende figure in die Kaapse letterkundige kringe, wat ook NP van Wyk Louw, WEG Louw, Hettie Smit, FJ le Roux en J du P Scholtz insluit. Boerneef was ‘n woordkunstenaar wat taal soos ‘n instrument hanteer het, en in 1963 postuum die Hertzog-prys vir poësie ontvang.

In Flennie die Snare word heelwat van die ouer Boerneef-toonsettings gehoor soos “Die Berggans het ‘n veer laat val” en “Voshaarnooi”, maar ook splinternuwe opwindende toonsettings deur Rudolph Pretorius, Anna Davel, Chris Chameleon en Laurika Rauch.

Swart is ‘n Boerneef-liefhebber en het reeds 30 jaar gelede ‘n Boerneef-produksie saam met die PATSO-toneelspelers aangepak. “Flennie die Snare is vir my baie persoonlik. Juffrou Aletta Gericke van die ADK was my mentor en het my al baie vroeg in my lewe aan die wonderwêreld van Boerneef bekend gestel.

Daardie woorde wat klank en musiek word. Kyk man, ons moes Boerneef vir juffrou Aletta doen tot dit by ons ore uitkom. Ironies genoeg, toe ek my eie dramaskool jare gelede gehad het, moes die dramastudente ook Boerneef doen tot dit by hulle ore uitkom.”

Hy lag lekker en sê Flennie die Snare het eintlik net gewag om te gebeur. “Dit moes gebeur! Een dag gesels ek met Philna Scholtz van die Innibos Kunstefees, wat net so lief is vir poësie soos ek is en ek sê dis nou tyd vir ‘n Boerneef-produksie. Net daar sê Philna toe – maar kom ons doen Boerneef. Ons hier by Innibos gaan jou help om Flennie die Snare op die planke kry! En so is Flennie gebore.”

Wat kan gehore te wagte wees? “Pret en nogmaals pret. Baie mooi sang en musiek, toneel, poësie, lekkerlagkomedie en baie hartseerdrama en nostalgie. Hope daarvan. Jy weet Boerneef was ‘n volksdigter en ‘n volkskrywer. Hy het oor alledaagse mense en dinge geskryf. Hy het ook geskryf soos die mense die taal gepraat het daar in die koue bokkeveld. Hy het hom ook min gesteur aan wat die letterkundiges van die tyd oor sy werk gesê het. Hy het geskryf oor dit wat vir hom lekker en mooi was. Ek spot altyd en sê, hy was eintlik soos die Lefra van daardie tyd se letterkunde! Eerlik, maar lekker kommersieel.

“Mense moenie ‘n swaar letterkundige affêre verwag nie – dit is lig en loslit en Boerneef se woorde steeds so vol klanke en musiek soos altyd. Ek kan ook ‘n geheimpie uitlap – die orkes speel ook toneel. So as jy altyd vir Jaconell Mouton, Mauritz Lotz en Riaan van Rensburg as akteurs wou sien, mag jy nie Flennie die Snare misloop nie,” sluit Swart af.
