Dertig werke gekies om gesprek uit te lok
Min tevore is kunsliefhebbers in die Laeveld so verwen met 'n verskeidenheid goeie hendendaagse Suid-Afrikaanse kuns, soos wat daar vanjaar by die hoofuitstalling met Innibos te sien is.

Die werk van nie minder as 30 van Suid-Afrika se voorste kunstenaars is sedert Dinsdagaand by die Burgersentrum op uitstalling. Dit is ook die laaste jaar van plaaslike kunspraktisyn, John Anthony Boerma, se driejaartermyn as feeskunskurator en hy sluit dit af met ‘n goed deurdagte samestelling van een werk elk van 30 Suid-Afrikaanse kunstenaars. Daar is dus vanjaar nie net een feeskunstenaar soos gewoonlik nie.
Boerma beskryf sy keuse as akademies eerder as van die beste werk van elke kunstenaar. Dit is ook almal Suid-Afrikaanse kunstenaars waarvan die werk ook op die internasionale mark verkoop. Die uitstalling geskied in samewerking met van die belangriktse galerye in Suid-Afrika. Boerma beskryf die uitstalling so in die die Innibos-programnotas:

“My 30 is ‘n opwindende samestelling van kunswerke van verskillende mediums wat op ‘n internasionale vlak kommentaar lewer op die Suid-Afrikaanse samelewing, politiek en mense se verwronge ingesteldhede.
“Die versameling praat hard en duidelik met Suid-Afrika en roep hom om op te hou treur oor alles wat verkeerd is en eerder die moeilike pad na herstel aan te pak. Nolan Oswald Dennis se werk, byvoorbeeld, vra na die heroorweging van die konsepte van onthou en vergeet in die kleurlose uitbeelding van die Suid-Afrikaanse vlag:

Die illusie van die reënboognasie is aan ‘t verdwyn en net haar mense kan dit in volle kleur herstel.
“Daar word ook klem geplaas op die onderskeid tussen goed en kwaad, tussen onskuld en bedorwenheid. Dié werke is ‘n simbool van Suid-Afrikaners se oë wat uiteindelik oopgaan om hierdie alomteenwoordige elemente van kwaad en bedorwenheid duideliker te kan onderskei. Afskeid is ‘n deurlopende suggestie en die betekenis is helder: Ons moet nie net afskeid neem van die onregte van die verlede nie, maar ook van die huidige toestand van verval en die vooruitsig van ‘n troostelose toekoms.”

Die uitstalling spog ook met die werk van een kunstenaar uit die Laeveld, Griet van der Meulen met ‘n installasie genoem: “Who killed Cock Robin?”. Ofskoon Van der Meulen se werk dikwels verband hou met die omgewing en sy hoop op herstel, is hierdie driedimensionele kunswerk ook effe polities gelaai. Ofskoon oorspronklik uit ‘n outydse kindersvers, is die Who Killed Cock Robin-frase later gebruik met verwysing na sinistêre moorde. In die teen-apartheidstryd was dit ook die verwysings na dr. HF Verwoerd.
Uitgestal in ‘n gestroopte ruimte is die name wat opval onder meer Vusi Khumalo, William Kentridge, Robert Hodgins, Heidi Fourie, Clive van den Berg en Brett Murray. ‘n Werk wat my opgeval het, is dié van die Kaapse tweeling, Hasan en Husain Essop, bekend vir hulle rekenaarsaamgestelde fotobeelde van die Suid-Afrikaanse Moslemgemeenskap. Die broers het saam in 2006 in beeldende kuns aan die Universiteit van Kaapstad afstudeer.

Hulle werk saam aan elke kunswerk as een kunstenaar. Omdat die Moslem-wêreld en sy rituele so geslote is, neem hulle mekaar af en stel dan die kunswerke elektronies saam. Hulle skep persoonlike ervarings, anders objektiewe ervarings. Die duplisering van die eie beeld in die werk hier te sien van dansende jong Moslemmans, laat ‘n byna ongemaklike, dog ‘n geweldige provikatiewe gevoel.
Dit veral in die lig van die feit dat die uitbeelding en kunstenaar een mens is – eintlik twee – en dit ‘n tweeling.
Maar daarom sê Boerma in sy programnotas:
“Die kunswerke dui nie net op die inherente kreatiwiteit van die kunstenaars nie, maar ook op inisiatief en deursettingsvermoë, op ‘n geringskatting van opinie en kritiek. Kuns is vreesloos. En uit die mond van Jerzy Kosinski: “Die grondbeginsel van ware kuns is om uit te lok, nie om uit te beeld nie.”
Hierdie besondere uitstalling moet niemand misloop nie. Na my mening sekerlik die raarste beeldendekunste-gebeurtenis nog in die Laeveld. Dit duur van 4 tot 8 Julie in die Banketsaal by die Burgersentrum.
