Geraldine Scholtz is ‘alles en nog meer’
Geraldine Scholtz is nie net 'n babbelkous met 'n sprankelende persoonlikheid nie, maar een van die Laeveld se opwindendste sangeresse.
Die 17-jarige blondekop se eerste snit is onlangs by The Hit Factory Studio in Pretoria opgeneem en die musiekvideo word volgende Vrydag gemaak.
“Dit was ‘n twee jaar lange droom en uiteindelik het die tyd aangebreek om my eerste musiekvideo te skiet. Ek is ongelooflik opgewonde daaroor. Dit is die begin van groot dinge,” vertel Geraldine.
Hoewel sy nog nie die snit se naam bekend mag maak nie, het sy gister gesê sy brand om meer te vertel.
“Die single is deur ‘n voor-aanstaande skywer geskryf. Die musiekvideo word ook in Pretoria geskiet, maar ek is nog nie seker waar nie. Hoe cool is dit nie?”
As ‘n jong dogtertjie het sy met ‘n borsel in die huis rondgeloop en gesing.
“Carike Keuzenkamp, Miley Cirus en self Juanita du Plessis se ‘Skarumba’ was van haar gunstelinge,” vertel haar ma Charlene.
“Ons het ‘n rukkie gelede by Bobby (Van Jaarsveld) se ma, Ronel Brink in Pretoria gaan kuier. Sy het skaars die oorfone opgesit om van Geraldine se musiek te luister, toe sy sê ‘jou dogter kàn sing’.”
Koor? Beslis! Hokkie of netbal? Nee dankie!
“Ek is nie ‘n sporty girl nie. Ek het nooit in hokkie of netbal belanggestel nie. My ma het voorgestel dat ek kooroudisies moet gaan doen. Ek het nie ‘n clue gehad wat koor is nie, maar vandat ek my eerste oefening bygewoon het, het ek tuis gevoel.
“Twee jaar later het ek vir Kersfees my eerste kitaar as ‘n persent gekry. Ek het ook met sang- en klavierlesse begin. Ek het selfs in ‘n stadium opera gesing wat my gehelp het om my stem te bou, maar deesdae sing ek net pop.”
Sy maak haar eerste verskyning by Innibos op die Arena- en ook op die KMI Airport-verhoog.
“Aan die een kant is dit awesome en aan die ander kant weet ek nie wat om te verwag nie. Ek tree nie gereeld in die Laeveld op nie. Die gehoor gaan ‘n nuwe kant van Geraldine sien.”
Sy is die ambassadeur van Gary Rom Nelspruit wat onlangs hulle deure by Crossing oopgemaak het en sy is gek oor die uitsig.
“Ek sal forever daar kan sit. Sjampoe en gesigwas is ‘n móét. Ek het nog altyd gebrand om van Gary Rom se produkte te gebruik, en dit is stunning.”


