PG se liefde vir die mens leef steeds voort
Die dramaturg, PG du Plessis wat die Afrikaanse letterkunde Nag van Legio gegee het, is ook die man wat duisende TV-kykers eindeloos vermaak het met Koöperasiestories - verhale wat 'n TV-reeks en toe oornag volksbesit geword het.

Hierin het PG geslaag juis omdat hy karakters met al hulle geite só lewensgetrou verbeeld dat ‘n mens voel jy ken hulle. Boonop het hy die karakters geplaas in omstandighede wat bengel tussen bisar en vertroud, of as jy wil, tussen lokale realisme en magiese realisme.
PG is ‘n uitmuntende storieverteller wat ‘n fyn oog gehad het vir mense se gedrag en hebbelikhede; wat mense se leemtes kon uitbeeld sonder om ooit venynig te raak. Hy beeld hulle uit met hul potsierlikhede en al, en slaag boonop daarin om lewenswaarhede in die proses in te smokkel. Goeie vermaak is dit, dié Koöperasiestories.

En dit is dié aspek wat verwerker, Alexa Strachan en regisseur, Sandra Prinsloo waarskynlik in die oog gehad het en hulle dié projek laat aanpak het.
Twee dinge val ‘n mens onmiddellik in dié verwerkings op. Die verhale is só sterk en só beeldend dat die verhoog hoegenaamd nie terugstaan vir ‘n medium soos televisie nie. En die verhale leef gemaklik voort in ander monde as dié van die akteurs van die TV-reeks.
Chris van Niekerk as Veldsman en Marion Holm as Mietie, boesem van meet af vertroue in. Tot ‘n groot mate is hulle die konstante faktor in die verhale. Die twee wat ‘n bietjie kan terugstaan en kan reflekteer op die doen en late van Genis en die ander spulletjie wat dié stories bevolk.

Om die skoene van Genis, die verpersoonliking van beswaardheid, vol te staan, is nie noodwendig maklik nie.
Dalk juis omdat dié karakter so na aan karikatuur beweeg. Carel Nel bring ‘n mate van nostalgie na dié rol – gewoon op grond van voorkoms – maar dit is soms ook dié raakvlakke met die TV-reeks wat die vertolking kniehalter. Die karakters en verhale is mos immers sterkter as die prentjies in ‘n mens se kop?
Die magdom rolle wat Wessel Pretorius en Margit Meyer-Rödenbeck moeiteloos vertolk, illustreer juis dié moontlikheid.
Juanita Ferreira se eenvoudige stelontwerp bied die ondersteuning wat Sandra se regie verg. Sandra onderskat nie haar gehoor nie en verwag van hulle om fyn te kyk, om aksie tegelyk op verskillende plekke op die verhoog te volg. Al is dit net uit die hoek van die oog, Mietie se gesigsuitdrukking. Dit is eerlike regie wat die meeste uit die verhale wil put wat Prinsloo aan die dag lê.
Op ‘n fees waar twee stukke van PG du Plessis aangebied word, wil ‘n mens amper aandring by die gehoor van die een om ook die ander te gaan sien. Uiteenlopend is Nag van Legio en Koöperasiestories wel, maar, soos ‘n mens weet, die mense waaroor dit gaan, verenig dié uiteenlopende fasette soomloos.

