Local newsNews

Wees veilig Innibos

Die doel van Innibos is pret, laat dit so bly sê veiligheidsbeamptes teenwoordig in vanjaar se fees.

J&M Sekuriteit is vanjaar weer op hulle pos om feesgangers by Innibos veilig te hou.

Hulle kantoor by die fees, is agter Hoërskool Bergvlam se skoolsaal.

Dolf van Rooyen, operasionele bestuurder van die gesamentlike operasionele
kommunikasiesentrum (JOC) in beheer van die fees se veiligheid, sê J&M-veiligheidspersoneel kan aan hulle uniforms uitgeken word.

Minderjariges wat dit wil waag om enetjie te veel te drink, moet liefs twee maal dink of hulle staar dalk ‘n aand in die tjoekie in die gesig.

Afhangend van die erns van die saak, kan  hulle krimineel aangekla word, of mamma en pappa sal ingeroep word.

“Ons gaan geen genade aan minderjarige drinkers betoon nie,” sê Dolf.

Sandra Jacobs vra ook vir besoekers om hul vuurwapens by die huis te los; nie in hulle voertuie nie.

“Maak seker dat julle nie waardevolle besittings binne-in vergeet nie,” sê Sandra verder. Brig. Gerrie Agenbag van Mbombela SAPD doen ‘n beroep op almal wat Innibos gaan bywoon om meer oplettend te wees van wat om hulle aangaan.

“Besoekers aan die fees moet seker maak dat hulle voertuie behoorlik beveilig is,” sê hy.

“Hulle moet ook seker maak dat hulle nie waardevolle items sonder toesig in hul voertuie los nie,” het hy bygevoeg.

Die beroep is ook aan die dorp se gemeenskap gerig, wat gedurende die fees ook kwesbaar gaan wees.

Inwoners wat langs Bergvlam woon, sê Gerrie, moet verseker dat hulle huise nie verlate lyk nie.

“Maak seker dat die ligte sowel as die televisie binne die huis aan is. Dit skep die indruk by inbrekers dat iemand tuis is,” sê hy. Moet net nie vergeet om jou gordyne toe te trek nie.” Volgens Gerrie moet gastehuise ook verseker dat hulle die nodige maatreëls vir die veiligheid van hul besoekers in plek het.

“Besoekers moet by OTM’s oppas vir sindikate wat hulle aandag aftrek en hul bankkaarte kloon,” sê Gerrie.

Die polisie sal in samewerking met die verskillende veiligheidsmaatskappye by die fees ontplooi word en ‘n teenwoordigheid handhaaf.

J&M en die polisie het die karwagdienste georganiseer om groter verantwoordelikheid te verseker en misdaad by voertuie te verminder.

“Ons sal alkoholmisbruik nie duld nie en sal met verkeersbeamptes saamwerk om die nakoming van die Wet op Alkohol en Dronkbestuur te verseker,” sê hy.

Gerrie versoek die gemeenskap om met die polisie saam te werk om die fees meer pret vir families en ander besoekers te maak. “Dit is immers die doel van die fees,” voeg hy by.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button