Lewe en dood herleef in donker drama
In die stal op sy eie plaas, sy huis afgebrand en sy gesin ook nie meer daar nie, lê 'n swaar gewonde generaal in 'n voerbak en yl.

Tussen lewe en dood herleef hy veldslae en verbeel hom selfs hy kan sy manskappe nog bevele gee en moed inpraat. ‘n Keer of wat lyk dit asof hy sy omstandighede besef.
‘n Kameerol, sou ‘n mens kon sê van dié een wat Stian Bam vertolk. Maar dit is die aanwesigheid van die afwesigheid wat hy vertolk. Gestroop van uniform, geweer, waardigheid en beheer.

In die stal is dit Anna (Antoinette Kellermann) wat in beheer is. Sy verpleeg hom met ‘n brousel wortels en wat nie al nie, wat sy in die maanlig uitgrawe. Anna is ‘n wilde vrou, een wat sterk herinner aan Bertold Brecht se Moeder Moed wat deur die oorlog genoop word om tot aksie oor te gaan. As aasvoëls van die oorlog bly sy en haar dogter, Annie, aan die lewe deur koperknope, goue horlosies en stewels van gesneuweldes te steel – diefstal sonder aansiens des persoons. Of dit nou dié van kommando’s of die vyand is. Hulle swerf voort en leef van voëls wat hulle vang.

Annie (Tinarie van Wyk Loots) is die anemiese dogter, die engel wat nie aan die slaap mag raak nie. En wat gereed gemaak moet word vir ‘n besoeker.

‘n Besoeker wat Anna aanvoel op pad is. Of is dit ‘n besoeker wat sy naderlok? Anna is nie net ‘n misterieuse vrou nie, maar het ook magiese kwaliteite, voel ‘n mens aan. Een wat vreemde krag put uit die rook van brandende kruie wat sy inasem. Antoinette vertolk dié rol sodat ‘n mens as ‘t ware die grond onder haar naels kan síén.

Die besoeker wat opdaag in die reën, is die sterwende generaal se adjudant (Edwin van der Walt). ‘n Jong man met viriliteit in gedagte, maar in die war deur die werklikheid van oorlog. Hy daag op as adjudant (hulp) van die generaal, maar ‘n mens vermoed dié hulp gaan hy mettertyd elders moet aanwend…
Reza de Wet se Asem, wat oorspronklik as Breathing In in ‘n bundel Engelse dramas gepubliseer is, is soepel deur Marthinus Basson vertaal – ‘n kenner van Reza se werk, en ook hier aan die werk as die noukeurige regisseur wat hy is. Hy skep ‘n atmosfeer binne ‘n besondere mooi stel en gebruik die geluid van die wind en reën buite as ‘n alomteenwoordige asem wat die misterie verhoog.

Asem is in Nelspruit Stadsteater te sien op Donderdag 6 Julie om 15:00, Vrydag 7 Julie om 12:00, Saterdag 8 Julie om 16:00. Tydsduur: 130 minute (pouse ingesluit). Prys: R142.

