Local newsNews

Dié digter geen misverstane figuur

Boekliefhebbers het Woensdagmiddag die geleentheid gehad om by die ATKV Boeke-oase skouers met die veelbekroonde digter, Bibi Slippers te skuur.

Die gesprek is behendig deur Annemarie van der Walt, projekbestuurder van Boeke Innibos, gelei en feesgangers sal dit beslis as ‘n unieke luister-ervaring onthou.

Bibi se debuutbundel, Fotostaatmasjien, het in November by Tafelberg verskyn en is reeds in herdruk. Sy het vroeër vanjaar die Eugène Marais- en Elisabeth Eybers-pryse vir poësie sowel as die Universiteit van Johannesburg se debuutprys losgeslaan – ‘n mondvol vir ‘n eerste bundel.

Fotostaatmasjien is eksentriek anders, verfrissend vars – die uitleg, die aanbieding en die woorde. Verál die woorde, maar ook die digteres self en soos Joan Hambridge tereg opmerk: “Sy (Bibi) debunk dan ook die gedagte van die digter as ‘n stil, eensame, misverstane figuur. Diegene wat in die verlede geïrriteerd was met haar openbare persona en uitstal van haar self – soms met haasoortjies, soms op ‘n bed – sal moet toegee: hierdie skiewie in die skriptorium weet van dig!”

Alpakkas en skape fassineer vir Bibi, maar bowenal fotostate en woorde soos “afskrif”, “Xerox” en “fotostaatmasjien” bevestig een van die bundeltemas: Onsself en alles waaruit ons wêreld saamgeflans is, is maar net afdrukke van iets anders, en soms van iets groters: “God se kop was vol gedagtes en hy het gewonder/hoe om gedaante te gee, om grond te maak van gees?/gelukkig het hy die masjien gehad om sy gelaat/op alles af te druk.”

Bibi vertel dat die bundel gebore is uit die gedig, “15 fotostate”: “Ek moes ‘n gedig skryf vir en voorlees by ‘n huldeblyk aan die digter Adam Small. Soos my gewoonte nou maar is, het ek goed navorsing gedoen en my met pakke fotostate met inligting oor Adam omring. So het ek vir weke lank die fotostate bestudeer, maar poëtiese woorde het my bly ontwyk.”

Sy het uiteindelik die dag voor die voorlesing besluit om dan maar oor die fotostate self te skryf. Die resultaat is neutvars en bied ‘n meer intieme blik op Adam: om nog ‘n fotostaat te maak: “‘n vergroting sodat ek jou swart oë/van nader kan bekyk en presies kan sien hoe jou wenkbroue lyk en nog een/waarin ek meer detail kan ontdek”.

Dit is beslis die moeite werd om Fotostaatmasjien aan te skaf en die bundel is by die ATKV Boeke-oase beskikbaar. Ons moet net noem dat sommige lesers moontlik ontstig kan voel deur sommige van die Skeppingsverhaalgedigte.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button