Die filmwêreld is nie maanskyn en rose nie
Hannes van Wyk tree daagliks in gesprek met van SA se beste akteurs, regisseurs en komediante.
Waar anders as by Innibos kry jy die geleentheid om ‘n kykie agter die skerms te kry, vrae te vra oor dinge waaroor jy nog altyd gewonder het, en boonop jou gunstelingakteur of -aktrise te ontmoet.
Die Boma-kuierteater bied daagliks dit en nog meer met Hannes van Wyk, die aanbieder van die immergewilde aktualiteitsprogram, Kwêla. Hy tree in gesprek met van SA se beste akteurs, regisseurs en komediante.

Muskiet het Donderdag gaan inloer waar hy met Donnalee Roberts en Ivan Botha, Francois Jacobs en Shaleen Surti-Richards gesels het oor hoe hulle filmloopbaan.
“Is looks belangrik?” Sukses word toegeskryf aan hoe hard jy bereid is om te werk, het meeste akteurs saamgestem, maar gladdebek Shaleen, net soos ons haar ken, spring in en sê sy’s net suksesvol omdat sy so lelik is. Almal in die gehoor vind egter dié uitlatings heel ironies deurdat sy al meer as 40 toekennings in haar loopbaan inegpalm het.

“Teater is soos ‘n skerpmaker vir die filmbedryf, maar die verskil is egter dat jy niks kan oordoen nie,” aldus Francois.
Die sprekers het die gehoor laat besef dat selfs vir akteurs soos Shaleen, werk skaars kan wees. “Ons is net mense, ons is ook onseker, skaam en bang. Dink daaroor voordat jy ‘n brief skryf en sê hoe sleg ons is,” skêrts Francois vol selfvertroue.
Die akteurs stem egter saam dat om ‘n suksesvolle akteur te wees, eerlikheid die wagwoord is. “As jy nie eerlik is nie, koop mense dit nie. Net omdat jy kan huil, maak jou nie ‘n goeie akteur nie,” sê Shaleen.
‘n Lid van die gehoor het nog altyd gewonder hoe akteurs reageer sou die gehoor nie vir hulle grappe lag nie. “As jy probeer om die gehoor te laat lag, gaan jy nie verder kom nie,” sê Shaleen.
Donnalee voeg by dat dit belangrik is om te onthou dat mense oor dieselfde ding huil, maar nie oor dieselfde ding lag nie. Nog ‘n lid uit die gehoor het gevra hoe hulle getroud kan wees, en iemand op stel soen? “Dis meer tegnies as romanties. Jy dink julle is twee alleen in ‘n romatiese, afgeleë area. Maar, rondom jou staan 30 mense wat presies vir jou sê hoe en wat om te doen,” sê Donnalee.
Hannes het ‘n kus uit Egoli se dae, tussen hom en Shaleen opgehaal. “Onthou jy dit?” vra hy. “Praat jy! Ek smaak jou nou nog!” Vandag om 16:00 se gesprek is ‘n geselsie met met Deon Lotz, Antoinette Kellermann, Chris van Niekerk en Albert Maritz. Saterdag se gesprek om 17:00 is een met komediante en ander in die bedryf wat ‘n lewe uit lag maak.
Hulle gesels oor wat ‘n komedie suksesvol maak en waarvoor hulle self lag. Met Schalk Bezuidenhout, Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en Frans Swart.

