Dié stuk laat jou diep nadink
Altaar. Waar begin 'n mens? Miskien deur erkenning te gee aan Innibos om dié vernuftige produksie wat tussen drama, bewegingsteater en musiekteater, én tussen Afrikaans, Venda, Xhosa, Zoeloe en Engels lê, in 'n wydgeskakeerde toneelaanbod as debuut in te sluit.

Dié insluiting van dissiplines en tale bied ‘n ryk tekstuur wat uit geskiedenis, fantasie, utopie én distopie, en ‘n skeut magiese geloof geweef word.

In Altaar maak Hennie van Greunen en Nico Scheepers gebruik van storievertel as een van die oudste kunsvorme om vlymskerp sosiale kommentaar aan die hand van vyf verhale te lewer: Van ‘n roerend mooi liriese monoloog tot ‘n tafereel uit 1977 met ‘n mevrou en haar huisbediende; die verbeeldingryke val van ‘n engel; die voorgeskiedenis van ene pres. David Roberts wie se volslae gebrek aan empatie later verreikende gevolge sou hê, en laastens die god van die storm wat die altaar skoonmaak vir nuwe verhale.

Dié verhale kry lewe in die spel van sewe jongelinge - Christia Visser, Crystal-Donna Roberts, Carla Smith, André Terblanché, Oarabile Ditsele, Heinrich Franse en Sive Gubangxa – wat rolle vertolk wat gekoppel is aan ras en eweneens los staan van enige verwysing na ras. Die standaardneiging om byvoorbeeld wit mense vir die rol van wit karakters te gebruik word heerlik en suksesvol ondermyn.

Meer nog. Altaar ondermyn die stereotipes en vooropgestelde vrese wat so welig gedy in Suid-Afrikaanse gemeenskappe en dikwels deur onverantwoordelike politici aangevuur word. Sonder om ‘n vereenvoudigde simunye-boodskap in die Altaar-verhale in te lees, besef ‘n mens tog dat daar meer raakvlakke is tussen die mense van dié land, en die mensdom in geheel, as wat jy vermoed. Waaroor ons dalk ten slotte ook almal saamstem, is dat ons gedoem is (‘n woord met meer eksplosiewe klanke word in die stuk gebruik!).

Hoewel die stuk nie naastenby wil preek nie en wil asemhaal ver anderkant enkelvoudige interpretasies, is dit groter empatie, ‘n groter belangstelling in mekaar, en ruimte maak vir mekaar se eienaardighede wat in die verhale deurslaan.
Hoewel die uiteenlopende geaardheid van mense in Altaar in soveel tale en dissiplines gestalte kry, slaag Hennie en Nico daarin om hegte eenheid te bewerkstelling in dié netjies bedinkte en uitgevoerde produksie. Teks en choreografie word ‘n eenheid (vergelyk die bewegings met die djembe-trom of die vergestalting van ‘n hut met ‘n takkedak). Nico se ontwerp en Pedro Kruger se musiek is ideale voertuie om die verhale te ondersteun en te verweef.

In Altaar peil sewe jong mense hulle plek in die land, teen die agtergrond van hul geskiedenis (of dit nou aan die hand van “Molly Malone” is of ‘n tradisionele Swahili-danklied), hul drome, maar ook hul woede.
Hennie en Nico, twee bekroonde teatermakers, span saam in ‘n produksie wat in woorde, sang, beweging en verrassende visuele tonele verhale vertel. En wat ‘n mens laat nadink.
Altaar is in Nelspruit Laerskool Donderdag 6 Julie om 18:00, Vrydag 7 Julie om 09:00, Saterdag 8 Julie om 13:00. Niemand jonger as 16. Tydsduur: 90 minute. Prys: R137.
