Local newsNews

Formidabele vroue gee toon aan by Innibos

Vroue gee vanjaar die toon aan by Innibos. Vir die eerste keer in die fees se 14-jarige bestaan word 'n vrou (saam met skrywer Dolf van Niekerk) as feeskunstenaar vereer.

MBOMBELA – Die amazing Amanda Strydom is vanjaar hierdie vrou.  Dié veelbekroonde skrywer/sanger/aktrise het al diep spore in Afrikaanse (en Nederlandse) harte getrap met haar Afrikaanse liedere. Sy hou steeds aan om tree vir tree haar pad te stap, en haar lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek besorg haar in 2017 dié prys, want sy kan rock in haar taal, en maak steeds amok.

Amanda het al talle toekennings in haar 38 jaar lange loopbaan verwerf. “Dit is vir my kosbaar om vereer te word want ek is nie ‘n kommersiële kunstenaar nie,” het sy vir Laevelder gesê. “Ek werk in ‘n klein nismark. Ek is meer ‘n digter-sangeres en my lirieke is, hopelik, van dieper betekenis.”

Sy was nog nooit spyt dat sy hierdie pad gekies het nie. Vir haar is Afrikaans ‘n saak van die hart. “Jy kan baie vermag in die kleine, met musiek – dit bind mense saam.”

Dit is vir haar ‘n besondere voorreg om deur Innibos vereer te word. “Dit is ‘n geweldige groot eer. Ek is baie lief vir die fees. Innibos het ‘n wonderlike reputasie onder kunstenaars. Hulle dra jou op die hande en laat jou tuis voel.”

Amanda het op die stel van Binnelanders, waarin sy tans speel, uitgevind van die toekenning toe feesbestuurder Andy Lubbe haar tydens ‘n blaaskansie gebel het. “Ek moes net daarna in die ateljee inloop en hoop ek onthou my woorde. Ek het gedog ek wil vir mense vertel, maar ek moes eers my woorde opsê.” Toe bel sy haar man, Tony, en haar ma en haar pa.

Sy is Saterdagaand op die hoofverhoog op die feesterrein te sien in die JacarandaFM-konsert saam met ander wonderlike kunstenaars. Sy mag egter niks verklap nie, buiten: “Ek sing liedjies waarvoor mense baie lief is, en saam met mense wat jy nie sou verwag nie.”

‘n Ander eerste by vanjaar is die verskyning van Antoinette Kellerman, wat nog nooit vantevore by Innibos op die planke te sien was nie. Sy maak uiteindelik vanjaar haar Bos-debuut met Asem. Dit speel vandag om 12:00 en môre om 16:00 in die Burgersentrum. Sy is Saterdag om 16:00 ook te hore in die Kwêla-gesprek met Hannes van Wyk by die Boma-kuierteater saam met Deon Lotz, Chris van Niekerk en Albert Maritz om oor hul loopbane in die plaaslike kunstebedryf te gesels.

Sandra Prinsloo is weer in verskeie produksies te sien. Die beskermvrou van Afrikaans.com tree vandeesweek op in Moedertaal, een van die min eenvrouvertonings by die fees en ‘n woordryke solovertoning wat min aktrises haar sal kan nadoen. Moedertaal speel vandag om 13:00 by Laerskool Nelspruit.

In So ry Miss Daisy is sy saam met John Kani op die verhoog, dekades na hulle saam opslae gemaak het in Miss Julie. Kyk dit vandag om 19:00 en môre om 09:00 by Laerskool Nelspruit.

Sandra is ook agter die skerms as regiseur doenig by PG du Plessis se Koöperasiestories vandag om 09:00 en môre om 15:00 by Laerskool Laeveld.

‘n Ander eenvroustuk is #DowweDolla. Sy het vanjaar haar ouma vir #dowwedolla saamgebring. “Dalk is Ouma só gewild dat sy volgende keer sonder Dolla kom,” skerts die aktrise.

Margit Meyer-Rödenbeck, wat ook dol is oor Innibos se weer, mense, kos en die natuur, vertolk sommer ses verskillende rolle. Buiten Dolla en haar ouma met gripes en grudges, speel sy vier vroue in Koöperasiestories.

Dolla is vanmiddag weer te sien, sonder Ouma, saam met Casper de Vries, Schalk Bezuidenhout en Soli Philander in die splinternuwe komedie-crawl. Dit skop vandag om 16:00, 17:00 en 18:00 by die NG Kerk Westergloed in Koraalboomlaan af. Geen o/18’s, asseblief. Kaartjies beloop R302 vir die vier uur lange vertoning(s).

Saam met haar in Koöperasiestories is Marion Holm wat op haar beurt die regie van nog ‘n eenvroustuk, O my goeie volk behartig. Dié kort komedie word by die Boma-kuierteater aangebied en bevat skerp teks en fyn karakterwerk (en word deur dokters aanbeveel vir die gekranktes en gekrenktes wat ‘n bietjie nodig het om te lag). Dit speel vandag om 15:00 en môre om 12:00. Dit is ‘n dosis lagmedisyne soos selde te vore beleef.

Amper, Vrystaat is nie so ooglopend snaaks nie (lees Johan Myburg se resensie in vandag se Muskiet). Dit is meer lag-met-‘n-traan, verduidelik aktrise Antoinette Louw. Sy is saam met medesterre, Milan Murray en Cintaine Schutte en regisseur, Nico Scheepers die dryfkrag agter die stuk.

“Ek het net geweet dit moet oor vroue gaan. Ons het toe ons idees saamgegooi. Elkeen het haar eie karakter ontwikkel,” het Antoinette aan Laevelder vertel.

Dit gaan oor drie vervreemde susters, elkeen met ‘n geheim, wat natuurlik uitkom wanneer hulle oor Kersfees en ‘n begrafnis saamkom. Die stel is ook ongewoon.

“Ons het dit baie simplisties gehou. Elkeen staan op spoelklippe, wat simbolies is van elkeen wat op sy eie eiland is en die miskommunikasie tussen mense as ons nie met mekaar praat nie of uitreik om te probeer verstaan waardeur iemand anders gaan nie.” Dit is wyd by ander feeste benoem en bekroon.

Amper, Vrystaat is vandag om 09:00 en Saterdag om 15:00 by Laerskool Laeveld te sien.

Shaleen Surtie-Richards vertolk weer die rol van Fiela in die hartroerende en tydlose treffer, Fiela se kind. Shaleen speel haar rolprentrol van destyds, maar nou in die teater, vandag om 10:00 en Saterdag om 09:00 in die NG Moedergemeente se saal.

Moenie hierdie vroue misloop nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button