Koekedoor deel wenke met feesgangers
Corli Botha (37), wenner van verlede jaar se Koekedoor-kompetisie en haar man, Gary, het feesgangers by die kykNET-tent gister geleer hoe om 'n koek te versier.

Corli, wat in Mbombela grootgeword het, bak van kleins af en het twee jaar gelede besluit om dit voltyds te doen.
“Voor dit was ek in die korporatiewe wêreld, want ‘n mens dink nooit dat jy jou passie as ‘n loopbaan kan volg nie,” sê sy.

Tydens hulle verblyf in Parys, Frankryk, kon Corli nie werk nie en het sy haar tyd bestee deur haar bakvaardighede te verfyn. Met hulle terugkeer na Suid-Afrika, het sy haar spysenieringsonderneming, Corli’s Kitchen, gestig.
In 2016 het sy besluit om aan die Koekedoor-kompetisie deel te neem. Dit was die tweede seisoen en sy het met die prys weggestap.

“Dit het my ‘n platform gegee waarop ek my onderneming kon uitbrei,” sê sy verder. Corli hou meer van kook as van bak, maar toe sy die kompetisie wen, het haar passie vir bak vlam gevat. Hierna het sy koekbakdemonstrasies aangebied wat sy baie geniet het.
Hierdie oudleerling van Laerskool Bergland en Hoërskool Nelspruit is die skrywer van die kookboek, Corli se kombuis, waarin sy maklike resepte gee wat nie sommer sal misluk nie, al gebruik jy ‘n gewone oond. Die boek bevat ook nuttige wenke wat kan help om enige bakprojek se sukses te verseker.
• Onthou daar is nog genoeg tyd om vir jou gunstellingkoeksister tussen 13:00 en 16:00 by die kykNET-tent te stem.
