Local newsNews

Radiopersoonlikheid gee ‘n paar lesse in lekker lag

RSG-aanbieder Ian Wessels se Lag101 leer mense om vir hulself te kan lag in die produksie Leer lag luid.

“Lag help ons om die donker kant van die lewe ligter te maak en trauma te verwerk.” Dit is die wyse woorde van bekende RSG-radiopersoonlikheid Ian Wessels in sy produksie, Leer lag luid.

Hy begelei sy gehoor op ‘n reis van Afrikaans se bekendste grap-genres en vertel wat ‘n grap so snaaks maak.

Tydens sy vertoning is die persoon met die mooiste kleintongetjie aangewys. Dié het met ‘n bottel Slanghoek-wyn weggestap. Met die prys vir die mooiste kleintongetjie, het die gehoor gelag dat hulle lê.

Ian se droë, skerp en soms stoute humor het die maagspiere behoorlik geoefen.

Hy het genoem dat eerbare lede van die parlement hom by uitstek inspireer, maar dat die president vir lag ‘n slegte naam gegee het.

“Siende dat ons nou fees in die oortreffende trap hou, kan ons maar lag, want dit is op sigself ‘n fees,” het die radiopersoonlikheid gesê.

Aldus Ian het alle grappies een ding in gemeen. Dit is die verrassing aan die einde, die punchline.

Ian het ook ‘n paar grappies uit sy boek Genade, Edelagbare: humor en die hof gedeel. Hy het melding gemaak van ‘n hele paar “onvanpaste” grappies wat mense met hom deel. Dis nou grappies oor blindes en grappies met ‘n rassistiese ondertoon. “‘n Mens moet met jouself kan spot,” het hy gesê.

Ian se weermaggrappies met kleurryke beskrywings het feesgangers lekker laat lag. So ook grappies waar vloekwoorde as werkwoorde gebruik word. Skoolgrappies en dié oor hupse oumense was gunstelinge.

Ian het die gehoor ook gewaarsku teen die gevolge van drankies in die oortreffende trap.Hy het vertel van navorsing waarin daar bevind is dat dit die ys was wat babelaas gegee het.

Kom gooi ‘n paar van jou laste af en lag vir ‘n halfuur saam met Ian as hy vandag om 17:00 en môre om 18:00 by die Mhoba Rum Boma-kuierteater optree.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button