Local newsNews

Rockers steel kollig op hoofverhoog

Die manne het Donderdagaand behoorlik gerock dat die spreekwoordelike kranse antwoord gee by die kykNET NOU!-konsert by die Standard Bank-verhoog.

Dit is die tweede jaar dat die fees die tweede aand aan rockers wy en dit is veral deur die jonger garde waardeer en geniet.

Boonop gee dit die RockRumoer-finaliste die geleentheid om op die groot verhoog op te tree. Vanjaar se wenner van dié kompetisie, Matt Carstens, is ook die aand aangewys.

Hy het nie hier grootgeword nie, maar is wel in Mbombela gebore. Hy en die ander finalis, After Robot het tussen die meer gevestigde groepe hulle ding gedoen, en die gehoor moes die wenner tussen die twee bepaal.

Lees meer

https://www.citizen.co.za/lowvelder/395376/finaliste-rock-dit-uit-vir-gesogte-prys/

Die verhoog het natuurlik fantasties gelyk. Majozi het verrigtinge afgeskop. Hierdie Durbaniet het oor die afgelope jaar groot opgang in die bedryf gemaak en hy toer tans die land vol.

Foto: Carlo Engelbrecht

Sy “Breathing” en “Fire” was perfek, en is gevolg deur die talentvolle Hemelbesem se rap-optrede. Dié vermaker is ook ‘n skrywer, digter, aktivis en motiveringspreker en sy Afrikaanse hip hop is iets om te beleef. Hy is so ongewoon, selfs die pa’s is aanhangers.

Foto: Benno Stander

Arno Carstens, wat verlede jaar sy eerste Afrikaanse album, Die Aandblom 13 vrygestel het, het nog die kenmerkende stem wat Springbok Nude Girls destyds bekend gemaak het. Sy optrede was meer soos ‘n teepartytjie in vergeleke met die Nudies se wilde vertonings van ouds, maar die rock-dreuning van sy Afrikaanse liedjies soos “Ontwaak” het die gehoor meegevoer.

Foto: Benno Stander

Dié verhoog vra egter vir ou treffers (soos “Blue eyes”). “Another universe” was wel bedees en het ongelukkig nooit die hoogtes bereik wat dit moet nie.

Matthew Mole was ‘n hoogtepunt. Die hartebreker was te oulik in sy pienk sokkies en mussie. Hy begelei homself natuurlik self op ‘n verskeidenheid instrumente – onder andere klawerbord en verskeie gesnaarde kitare. Sy treffers “Run”, “Holding on”, “Autumn”, en “Take your’s, I’ll take mine” het die voete laat jeuk en die mense tot in die omliggende biertuine laat skoffel.

Foto: Benno Stander

Die aand het egter aan die “scary-looking ou” van The Black Cat Bones behoort wat die dag sy groep se 10de verjaarsdag by Innibos kom vier het.

Sy weergawe van Koos Kombuis se “Bicycle sonder ‘n slot” was ‘n verrassing en ‘n openbaring en het dié feesganger nog met die skryf van dié resensie emosioneel gemaak.

Party gehoorlede het gemerk hy sou ons dag selfs meer gemaak het as hy die lirieke aangepas het na, “Ek het jou lief soos… Mbombela”, maar dit sou dalk te veel gewees het.

Skuddend en springend het die katte op hul eie liedjies verder gerock, voor VanFokKingTasties die aand afgesluit het.

Foto: Benno Stander

Die mengsel van Van Coke Kartel, Fokofpolisiekar, aKing en Die Heuwels Fantasties bestaan uit Francois van Coke, Wynand Myburgh, Pierre Greeff, Hunter Kennedy, Johnny de Ridder, Laudo Liebenberg, Hennie van Halen en Jaco “Snakehead” Venter. Hierdie resensent was nog altyd partydig vir Fokof en het uiteraard “Tot die son uitkom” en “Ek skyn” die meeste geniet.

Seremoniemeester Robbie Kruse het dit ook baie geniet, en opgemerk dat hy nooit weer ‘n Innibos sal misloop nie.

Foto: Benno Stander

Foto: Benno Stander

Foto: Benno Stander
Foto: Carlo Engelbrecht
Foto: Benno Stander
Foto: Carlo Engelbrecht

Lees meer

innibos 2017

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button