Bekroondes deel hulle passie Innituin
Innibos is nie net 'n vermaaklikheidsfees nie, maar ook 'n boeke-fees.
Liefhebbers van die geskrewe woord kan by verskeie geleenthede na voorlesings uit Afrikaanse literatuur en gesprekke met skrywers luister. Woorde Innituin, geborg deur ClemenGold en aangebied by Suikerbossie-teetuin, is so ‘n produksie en een van die jaarlikse Innibos-hoogtepunte.
Afrikaans is ‘n “lekker” taal ryk aan beskrywende woorde wat dinge, plekke en mense op ‘n eiesoortige manier kan voorstel en skets. Die werke van Dolf van Niekerk en Etienne van Heerden is ‘n sprekende bewys hiervan en beide staan bekend as literêre meesters. Dit is dus gepas dat Dolf sowel as Etienne dan ook by Woorde Innituin 2017 optree.
Annette Engelbrecht, programleier en bekende aktrise en Laevelder, lees uit Dolf se bundels voor en dit word gou duidelik waarom hy as ‘n taalmeester beskou word. Die woorde vloei ritmies en roep in detail en kleur beelde van landskappe, emosies en worsteling op.
Dit is geen verrassing dat Dolf hierdie jaar deur Innibos met ‘n bronsbeeld deur die beeldhouer, Arend Eloff vereer is vir sy lewenslange bydrae tot die Afrikaanse woordkuns nie. In 2013 reeds word hy op gepaste wyse deur Joan Hambidge beskryf as ‘n “suiwer stem in Afrikaans… Dit is ‘n man wat doelgerig op die aarde loop, sónder pretensie of voorgee.
“Met elke lees word ‘n mens onder die indruk gebring van ‘n belangrike digterskap oor al die opposisies in die mens se gees op soek na die onbekende, onsigbare, oneindige…”
Die werk van Etienne, tweemalige wenner van die Hertzogprys, is geen uitsondering nie. Die wêreld van Charlie Oeng het so pas die lig gesien en blaai maar deur die lywige roman; dit is prosa, maar tog ook poësie: “Sy’t dit eendag daar sit en bedink op die klipboep van haar babatjie se graf, een winderige Saterdagmiddag terwyl sy die warrelwinde dophou wat soos drosters uit die vlakte opstaan en ‘n ent hol en weer gaan lê.”
Annemarie van der Walt, organiseerder van Boeke Innibos, voer hierdie jaar vir die eerste maal tydens die fees ‘n boekgesprek met Etienne. Hy vertel hoe sy karakters gebore word en in sy skryfkamer ontwikkel tot wasdom.
Hoewel Die wêreld van Charlie Oeng oor die lewe van ‘n denkbeeldige persoon gaan, beleef Etienne hoe hy die karakter van dag tot dag beter leer ken, totdat hy aan die einde van die skryfproses intiem bewus is van elke karaktertrek en gewoonte, van elke geraamte in die kas en teleurstelling.
Dit laat ‘n mens wonder hoe hy hom na die skryfproses losmaak en afskeid neem…
Etienne doen ook wyd navorsing – soos duidelik blyk uit al sy werke wat reeds die lig gesien het. Die spore van Charlie Oeng word letterlik deur Amsterdam, Hongkong en Istanboel gevolg, maar alle paaie loop maar op die ou einde na Slootplaas in die Karoo.
Die skrywer het die buitelandse stede as toeris besoek, maar slaag meesterlik daarin om eerder oor Charlie Oeng as inwoner in stede van toeris te skryf. Dit is interessant dat die 36 Chinese Krygstaktieke vir oorlog, politiek en burgerlike interaksie ‘n definitiewe rol speel en die roman is dienooreenkomstig opgedeel in 36 hoofstukke.
Die voorlesings en gesprekke word afgewissel met musiek deur Laurinda Hofmeyr, musikale vertolker en toonsetter van Afrikaanse poësie. Baskitaarspeler, Schalk Joubert en Kevin Gibson op perkussie, tree as begeleiers op.
Al drie word as topmusikante beskou. Laurinda het die gawe om poësie wat gewoonlik tot ‘n uitgesoekte gehoor spreek, met groot sukses na ‘n veel groter gehoor te bring.
Woorde vloei tog dikwels makliker as dit deur musiek aan die luisteraar bekendgestel word. Laurinda toonset gedigte wat op ‘n spesifieke tyd in haar lewe tot haar spreek. Gedigte deur Sheila Cussons, Antjie Krog, Breyten Breytenbach en NP van Wyk Louw val onder die poësie wat nuwe betekenis deur musiek gekry het. Daar word wêreldwyd na haar musiek geluister.
Geen boekliefhebber kan Woorde Innituin misloop nie. Dit is doodeenvoudig een van die hoogtepunte van Innibos.







