Innibos 2017 was die fees om by te wees
Vanjaar se vuurwerkvertoning het die feesgangers verstom.
MBOMBELA – Innibos 2017 was asemrowend. Voorlopige syfers toon dat meer as 101 000 mense die vyf dae lange kultuurfees bygewoon het. Volgens Innibos se bemarkingsbestuurder, Sandra Jacobs, sluit hierdie syfer BBP se bywoning sowel as komplementêre gaste, teatergangers en mense wat die feesterrein besoek het, in.

Saterdagaand se mega-konsert is deur 25 000 feesgangers bygewoon. “In vergelyking met verlede jaar se kaartjieverkope vir die feesgronde, het ons 1 000 meer verkoop,” sê Jacobs. “Innibos se bestuur is baie ingenome en dankbaar teenoor die gemeenskap. Ondanks die taai ekonomiese tye het mense hul ondersteuning gewys. Dit is baie waardeer,” het sy bygevoeg.
Geen geweldadige voorvalle, beserings of voorvalle te doene met alkoholmiskbruik is tydens die fees by die polisie aangemeld nie. J&M Sekuriteit se Werner Terblanche het gesê dit was deels te danke aan die fees se streng beleide wat behoorlik deur alle partye geïmplementeer is.
“Ons is veral tevrede met die uitvoering van Innibos se verbeterde alkoholbeleid. Dit het streng maatreëls verskaf. Die bediening van minderjariges is belet, en ons het ook daarop gefokus om volwassenes daarvan te weerhou om vir hulle drank te koop. Dit is suksesvol gemonitor,” het hy gesê.
Polisiewoordvoerder, kapt. Dawie Pretorius, het beaam dat dinge goed verloop het uit ‘n misdaadsvoorkomingsoogpunt. Slegs vier diefstalle uit voertuie is aangemeld, waarvan twee nie naby die feesterrein was nie.
Die grootste glips was 20 minute van stilte wat die afskop van Vrydagaand se konsert op die hoofverhoog vertraag het.
Jacobs het verduidelik dat die klank ‘n paar keer tydelik afgegaan het, en tegnikuste moes probeer om die probleem te identifiseer. “Maar met produksie wat baie hoëspoed-verbindings het, kan dit ‘n ervare span dae neem om dit op te los,” het sy gesê.
Die span het besef dat dit binne minute moes gebeur. “Ons bel toe vir JVC in Amerika.” Daar is vasgestel dat dissonansie tussen die kragtoevoer na die kameras (munisipale elekstrisiteit) en die van ander elemente wat met kragopwekkers gewerk het, was. Twintig minute later, is die probleem opgelos, en kon die konsert voortgaan.
Saterdag se Jakaranda FM-vertoning was weer eens ‘n asemrowende skouspel – ‘n wonderlike belewenis wat net iemand van Barry Pretorius se kaliber kan optower. Hy is werklik daartoe in staat om homself met elke nuwe Innibos te oortref.
Op dieselfde aand het Margit-Rödenback met die louere vir die beste verhoogproduksie van die Koöperasiestories-span weggestap. Vanjaar se vuurwerkvertoning het die feesgangers verstom.
Die kunstenaars het te midde van die vuurwerke en fyn hantering van die beligting, hul liedjies en duette vir vier uur lank die een na die ander van die verhoog af laat vloei.
Die konsert het met ‘n hoendervleis-vertoning deur Snotkop afgeskop. Die energieke vertolking van “Rock Me Amadeus” deur die violis, Lizelle le Roux het die aand se topgehalte vertoning aan die gang gekry.

Die vuurwerke, die ballonne en die vlamwerpers het deurentyd die verhoog opgehelder en bygedra tot die elektriese atmosfeer. Liezel Pieters en Dewald Wasserfall was volgende. Soos gewoonlik het Robbie Wessels se “Macarena Mambo” en “Halley se Komeet” vir groot vermaak gesorg.

Corlea Botha het almal op ‘n musikale reis geneem en net daarna het Refentse die gehoor letterlik op hul voete gekry.
Sy weergawe van “Meisie sonder Sokkies” was briljant. Touch of Class se weergawe van “Sound of Silence” het die skare se hartsnare behoorlik geroer.
Jo Black en Elvis Blue het op hul beurt bewys hoekom hulle vinnig besig is om in ikone van die musiekwêreld te ontpop.

Nadat Amanda Strydom deur Innibos vereer is vir haar lewenslange bydrae tot die kunste, het sy ‘n onvergeetlike weergawe van haar “Hoor Hoe Brom (Rock in my Taal)” vir die feesgangers aangebied.

Vrou-alleen het sy die verhoog oorheers en gesorg dat alles rondom haar klein geword het soos sy haar epiese verhoogteenwoordigheide gehandhaaf het. Net hierna het die legendariese Nederlandse sanger, Stef Bos, by haar op die verhoog aangesluit.
Hiervandaan het die pret ietwat ligter geraak toe die sokkiekoning, Kurt Darren die mikrofoon gevat en met liedjies soos “Dans op die Tafels” en “Meisie Meisie” losgetrek het. Juanita du Plessis het haar “Toe Staan die Wêreld Stil” opgevolg met ‘n treffende duet saam met Jo Black. Hulle het die Beegees se “To Love Somebody” saamgesing.
Die konsert is afgesluit met ‘n keurspel wat onder meer, Afrikaanse gunstelinge soos Kurt se “Kaptein Kaptein” ingesluit het.
Dit is deur al die kunstenaars saam gesing as afsluiting van dié fees wat voorwaar in oortreffende trap aangebied is.
Sien ons foto galery hier:














