Keur van rockers bied iets vir almal
Wat Dan Patlansky, oftewel Dan the man, met 'n Fender Stratocaster kan aanvang, is ongelooflik. Hy was voorwaar die grootste trekpleister by Innibos se kykNOU! Rockverhoog Saterdagaand.
Hierdie konsert het so hard gerock, en tog iets vir elke smaak en vanjaar ook iets vir alle ouderdomme gebied.
Vir hierdie resensent het die aand egter nie uiters goed begin nie. “Jirre, tannie! Wat doen JY hier?” vra ‘n jongeling nadat hy my amper in my dinges in loop. Hy’s gekletter, ek nie. Ja, inderdaad Boetman – goeie vraag, maar hier is die antie nou.
Dis onmiddellik duidelik dat die gehoor in twee verdeel is. Ek is nie die enigste lid wat die ouer garde daar verteenwoordig nie, want ek merk etlike van my ‘tipe’ op. Die afleiding is dat hulle daar is om kitaarmaestro Dan Patlansky te beleef, eerder as Locnville, die elektroniese wonderkinders uit Kaapstad. Bierverkope vorder fluks en kort voor lank skop Tuin die aand se verrigtinge af. ‘n All-girl band (met uitsondering van gaskunstenaar Sunny Principe, wat plaaslik in GoatnHare speel), doen hulle hul reputasie as die wenners van verlede jaar se Rockrumoer-kompetisie gestand. Die hoofsanger, Tanya Schoeman se klein lyf beskik oor ‘n enorme hoeveelheid energie, en sy is duidelik in haar element op die verhoog. ‘n Vinnige weergawe van “Proud Mary” kry die gehoor aan die beweeg; “Halleluja” het julle in ‘n beswyming. Lekker man, lekker.
Desmond & The Tutus tref die verhoog soos ‘n tsunami. Hulle musiek word beskryf as kwela-indie-punk, indien dit enigsins sin maak. ‘n Veelsydige groep wat al op vele legendariese internasionale verhoë opgetree het, neem die Desmonds hulleself nie te ernstig op nie. Die hare waai letterlik, veral eksentrieke hoofsanger, Shane Durrant se indrukwekende boskasie. Hulle mag dalk ‘n was en ‘n kam nodig hê, maar met hulle vermoë om ‘n gehoor op hulle voete te kry, skort daar niks. “Lazy Bones”, ‘n liedjie van hulle 2015 album, Enjoy Yourself af, was ‘n wenner.
En uiteindelik (dis nou vir die ouer garde onder die gehoor) betree die maestro die verhoog: Dan. Een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde blues-kunstenaars, word hy reeds op die jong ouderdom van 30 as ‘n legende beskryf.
Hy kombineer smeulende harde rock met teer, selfondersoekende oomblikke – energie en passie saamgesmelt in ‘n fees van ‘n pakket.
Ou bekendes, Wonderboom was volgende op die lys. Sedert die groep se stigting twee dekades gelede, het hulle opslae gemaak en word beskou as een van die land se mees opwindende live acts. Hoofsanger Cito het nie terleurgestel nie. Met kenmerkende energie het hy homself oorgegee aan die vertoning: dis net hare en tattoos, maar die gehoor love dit. Wie sê oumense kan nie rock nie?
Locnville is ‘n vreemde keuse vir ‘n rockverhoog, maar tweeling Andrew en Brian Chaplin het hulle goed van hulle taak gekwyt. Na ure se oordonderende dromme en kitare, het die groep se elektro-popmusiek en aansteeklike dansritmes ‘n welkome alternatief gebied: ‘n ietsie soet en lig na ‘n aand van gewigtige optredes.
Foto’s: Benno Stander