Ytdiebos wildsveiling maak debuut in die Laeveld
Organiseerders wil dit in 2018 weer doen.
MBOMBELA – ‘n Lekker, insiggewende dag en veiling ter bevordering van die wildbedryf is Saterdag in die Sudwalagrotte se amfiteater aangebied.
Nie net was die Ytdiebos-wildsveiling se venue uniek nie, maar dit was ook die eerste keer dat die geleentheid in die streek gehou is.
“Vandag kan as ‘n wildsinligtingsdag en ‘n veiling beskryf word,” het Sudwala se eienaar, Philip Owen gesê.
Besoekers van heinde en verre kon saam kuier en aan stalletjies se lekker kos en ‘n verskeidenheid drankies weglê.

Sangeres Chimoné Kok het die groep met agtergrondmusiek vermaak. Verskeie wildbedryfverwante besighede het hulle dienste en produkte uitgestal en bemark. Teen 18:00 is daar van die restaurant en kroeg na die grotte beweeg, waar ‘n katalogusveiling aangebied is.

Franco Joubert van North West Wildlife Traders het verduidelik dat slegs beeldmateriaal van die diere op veiling gewys word. “Dit bring mee dat diere onder minder spanning gebuk gaan tydens die veilingsproses. Slegs dié wat verkoop word, word enigsins gevang,” het hy gesê.
Dit was ‘n prestige-geleentheid en ‘n groot verskeidenheid wild is aangebied – onder meer buffels, swartwitpense, bastergemsbokke, njalas, bosbokke en verskeie ander vlaktewildspesies. Die aanbieding van jagdiere is ook geprioritiseer.

Joubert was tevrede na afloop van die veiling. “Alhoewel min diere verkoop is, was dit die moeite werd.”
Volgens Joubert was daar drie hoogtepunte – ‘n koedoebul is vir R80 000 verkoop, ‘n njalabul vir R250 000 en ‘n buffelkoei vir R600 000. “Ons het meer besoekers van buite die Laeveld af verwag tydens die ingligtingsdag, maar ons uitset was nogtans positief vir beide bywoners en verkopers,” het hy afgesluit.
Sien hier nog foto’s:
























