Local newsNews

Likkewaan wel sy agterbeen kwyt, maar sterk nou by nuwe tuiste aan

Dit volg nadat hy deur 'n vragmotor raakgery is, en sy linkeragterbeen afgesit moes word.

Die likkewaan wat onlangs die verkeer net voor die Schoemanskloof-afdraai ontwrig het, is onlangs by sy nuwe tuiste, Perry’s Bridge Reptielpark verwelkom.

Dit volg nadat hy deur ‘n vragmotor raakgery is, en sy linkeragterbeen afgesit moes word.

Inspekteur van Nelspruit DBV, me. Marcelle Hoffman het ‘n oproep ontvang om ondersoek te gaan instel na ‘n man wat ‘n bobbejaantjie vir R1 000 by ‘n drankwinkel op die Schoemanskloofpad verkoop. Op pad terug het sy op die 20 kilogram-likkewaan afgekom.

Sy het die verkeer van albei kante tot stilstand gebring.

“Ek het eers gedink dit is ‘n groot blouaap wat ek onder die trok se wiele sien tol. Ek het dadelik uitgespring en voor ‘n kar gaan staan om te keer dat die likkewaan weer getref word,” vertel Hoffman.

Die likkewaan het met ‘n gebreekte been na die regterkant van die pad beweeg.

‘n Inwoner van Mbombela, me. Rochelle Smit en haar vriend mnr. Francois Botha het oplaas afgetrek om Hoffman te help om die koudbloedige dier in haar kar te laai.

“Ons het gesien daar staan ‘n vrou in die middel van die pad. “Ek het na haar kar toe gehardloop om ‘n drasak te gaan haal om die likkewaan in te sit,” het Smit gesê.

Hoffman het hom kort daarna na Van Wijk Voël- en Dierekliniek vir X-strale geneem. Dr. Jaco Coetzee en dr. De la Rey Brugman het die likkewaan behandel. Die X-strale het aangedui dat daar ‘n breuk aan sy linkeragter-tibia en -fibula is.

“Dit is nie ‘n alledaagse pasiënt nie. Ons behandel seker een keer ‘n jaar ‘n likkewaan.” Coetzee en Brugman het met Onderstepoort se Veeartsenykundige Akademiese Hospitaal geskakel om hulle opinie oor die dier se gebreekte been te kry.

Die fraktuur net onder sy knie was lelik beskadig en die stukkie tussen die knie het die dokters met beperkte spasie gelos om mee te werk. “Sy been het erg begin swel en dit het ons met geen ander opsie gelos as om dit af te sit nie,” het Hoffman Saterdag op Nelspruit DBV se Facebook-blad gesê.

“Hy het ten volle herstel en die operasie het beslis sy lewe gered.

Hy is na Hazyview se rehabilitasie-sentrum gestuur en hopelik kan hy binnekort weer na sy oorspronklike habitat toe terugkeer,” het Hoffman gesê.

“Dankie aan die dokters van Van Wijk Dierehospitaal. Julle het so mooi na hom omgesien. Ons is so bevoorreg om daagliks met diere te werk.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button