Local newsNews

Koei oorleef trein ongeluk, maar nie vir lank

Nelspruit DBV-inspekteur vermoed dat mense die beeste met opset voor die aankomende trein ingejaag het, juis om die vleis te bekom.

MBOMBELA – Inwoners van Mataffin het Woensdag ‘n gelukkige vonds vleis gehad, nadat drie stuks grootvee deur ‘n trein getref is.

Nelspruit DBV-inspekteur, Marcel Hoffman, was die middag onderweg van ‘n ander toneel toe sy ‘n groot groep mense langs die pad oorkant Mbombela Stadium, aangetref het. Toe sy sien hulle hardloop met emmers en pangas nader, is haar vermoede bevestig.

Op die toneel het sy op hulle afgekom waar hulle besig was om ‘n koei te slag.

Haar kop was reeds verwyder. Hoffman sê een van die mense het aan haar beken dat die dier aanvanklik nog geleef het.

‘n Bul met gebreekte agterbene en rug is daar naby gevind. “Hy kon beweeg en was in groot pyn,” sê sy. Sy het Hi-Tech geskakel wat dadelik kom help het.

Tammy Horn van die nabygeleë Burning Barrels-skietbaan, het die bul van kant gemaak. Hoffman het gemeld dat dit die tweede keer was dat Horn hulle met die uitsit van vee wat deur ‘n trein getref is, gehelp het.

Nog ‘n koei is onder die trein gevind. Sy is ongeveer 350 meter ver gesleep. Haar dooie, ongebore kalfie is agter die trein gevind. Die trein se onderkant is beskadig.

“Ons soek nou dringend na die eienaar,” sê Hoffman. “Hulle moet eintlik ‘n herder hê. Hulle mag nie net vry rondloop nie. Hulle het ook geen identifikasie gehad nie.”

Volgens die Wet op die Indentifikasie van Diere (Wet no. 6 van 2002) moet beeste met ‘n brandmerk of oor-etiket gemerk wees om veediefstal teen te werk. Hoffman voeg by dat sy gereeld vee in dié omgewing uit die pad moet haal.

“Ons is ook bekommerd oor mense se lewens. As ‘n kar ‘n dier op die hoofpad tref, kan jy ‘n hele familie afskryf.”

Sien ook

Sy het die publiek gevra om die DBV ook dadelik te laat weet wanneer diere beseer is, sodat hulle so gou moontlik van kant gemaak kan word. Sy het gesê die DBV beoog om met die eienaar en Transnet te vergader om die saak te bespreek.

Sy het Transnet aangeraai om nie vergoeding vir die vee te betaal nie.

Lees meer

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button