NCID sit eis teen nie-betalers op ys
Die Nelspruitse stadsverbeteringsdistrik (NCID) het sy hofsaak om betalings van nie-betalende lede te in, onlangs gestaak.

MBOMBELA – Die saak tussen NCID en ene JS Letsela is onlangs in die plaaslike landdroshof aangehoor.
NCID het verrigtinge gestaak, nadat hulle Letsela aanvanklik vir uitstaande betalings gedagvaar het. Hy het aangevoer dat die heffings wat die NCID vra, nie betaalbaar was nie.
Sy prokureur, Christo Smith verduidelik dat verskeie eiendomseienaars voel dat hulle nie veel baat vind by ‘n CID nie en dat dié dienste deur die munisipaliteit gelewer behoort te word.
NCID het op 16 Augustus formeel sy eis onttrek en aangedui dat dit alle aanhangige eise ook sou onttrek, weens ‘n vorige uitspraak waarin die appèlhof in 2016 in ‘n soortgelyke saak in Randburg beslis dat CIDs nie strook met die Grondwet nie, wat sou hou dat plaaslike regerings (munisipaliteite) hul reg om betalings in te vorder nie kan delegeer nie.
“Ons het die saak gestop omdat dit aan die lig gekom het dat die Randburgsaak ‘n impak op dié een kan hê. Ons het dit net gestop en is besig om na die saak te kyk,” sê NCID bestuurder, TJ Maré.
“NCID kyk tans saam met Mbombela Stad-munisipaliteit na maniere wat NCID sal toelaat om mettertyd met hierdie sake voort te gaan,” sê Maré. Tot ‘n verdere besluit geneem word, bly die NCID en die stadsverordeninge in werking.
Smith het aan die hand van die Randburg-uitspraak gesê dat eiendomseienaars binne CIDs nie heffings hoef te betaal nie.
“Ons het instruksies van verskeie eienaars om die heffings wat hulle betaal het, terug te eis.”
Die munisipale woordvoerder, Joseph Ngala, het nie op die koerant se versoek vir kommentaar, gereageer nie.


