Kaleidoskoop maak hulself tuis in Laeveldste harte
Hulle skep 'n atmosfeer wat jou laat voel of jy die musiek in die gemak van jou eie huis, of dalk selfs in een van die lede se huise, sit en luister.

MBOMBELA – Kaleidoskoop het Saterdagaand voor ‘n volgepakte stadsteater, gesorg vir ‘n “sit terug, skop jou skoene uit en ontspan”-aand – perfek vir die lente wat oral uitspruit.
Dié talentvolle akoestiese musiekgroep het ‘n informele styl wat skerts, stories vertel en interaksie met die gehoor insluit.
Hulle skep ‘n atmosfeer wat jou laat voel of jy die musiek in die gemak van jou eie huis, of dalk selfs in een van die lede se huise, sit en luister.
Hulle gaan so ver om ‘n sitkamermat op die verhoog uit te rol om hierdie prentjie nog beter te skets en in te kleur met ‘n positiewe, kleurvolle uitkyk op die lewe.
Hulle musiek weerspieël liefde en menswees en ‘n broodnodige boodskap van hoop.
Jouba vertel stories wat jou laat skater, maar in ‘n oogwink kan jy ‘n speld hoor val wanneer Anique se engelstem die gehoor bekoor.
Lees ook: Dogs and cats up for adoption at the Nelspruit SPCA
Kaleidoskoop het vroeër vanjaar hulle splinternuwe album, Gunsteling Seisoen, bekendgestel.
Die album is deurtrek met dié groep se unieke akoestiese klank.
Opgewekte snitte en sielvolle ballades bied ‘n dieper kykie in die verskillende seisoene van die lewe, liefde en menswees.
Volgens Anique, weerspieël die album nie net die vreugdes van die lewe nie, maar ook die onvermydelike hartseerelemente wat hulle met hoop en positiwiteit benader.
Hier is ‘n video wat handel oor ‘n gebroke en afgematte swerweling wat wakker word in ‘n oop veld en vandaar doelloos rondswerf. Op sy reis kom hy verskeie mooi situasies en mense tee en sodoende word sy hart weer sag en hy besluit om terug te keer na dit waarvanaf hy weggehardloop het:
Kyk na ‘n paar foto’s van die vertoning hier:












