Local newsNews

KYK: Groot skade na BUCO brand

Daar is redelike sekerheid dat dit nie brandstigting was nie.

MBOMBELA – Die brand wat BUCO se hele houtpakhuis hierdie week in puin gelê het, is Donderdagoggend uiteindelik geblus. Bestuurder Pottie Potgieter het gesê die brandweer was wonderlik. Hulle was boonop baie vinnig op die toneel.

Volgens Nico Grobler van CSG Hi-Tech Sekuriteit, het ‘n beampte Theo de Meyer, Dinsdag omstreeks 22:15 die rook tydens ‘n roetinepatrollie opgemerk. Die brandweer is ontbied.

Potgieter sê hulle was so vinnig op die toneel, binne ongeveer 15 minute, dat hy te laat was om vir hulle oop te sluit en dat hulle die hek moes oopbreek. Teen 22:50 was die hele pakhuis van 3 000 vierkante meter in vlamme gehul.

Hoewel die brandweer die vuur onder beheer gekry het, het dit gereeld bly opgevlam en is dit eers Donderdagoggend finaal geblus.

Potgieter sê dit was onrusbarend dat dit deurgaans bly smeul het.

Lees meer

“Daar is niks oor nie,” het Potgieter gisteroggend vertel. Hy het beraam dat ongeveer R4 miljoen se hout en borde en R6 miljoen se masjinerie verwoes is. Die gebou was sowat R10 miljoen werd.

“‘n Mens voel baie hartseer. Ons het in 2000 self die gebou as ‘n houtstoor ingerig. Ons het alles self gedoen. Ons het baie hard gewerk om die stoor te kry waar hy was.”

Potgieter is oortuig dat geen vuilspel by die brand betrokke was nie.

“Ons het dadelik na ons sekuriteitskameras gaan kyk, en daar was niemand op die perseel nie. Ons het dit dopgehou tot die vuur begin het.

“Selfs die bure se kameras, wat ‘n goeie uitkyk oor ons perseel het, het niks opgetel nie.

Die enigste moontlikheid is ‘n elektriese fout of kortsluiting binne die stoor.

BUCO se hoofwinkel is glad nie deur die brand geraak nie, en hulle het spoedig weer hout begin verkoop. Intussen het hulle ‘n deel van die dakkapfabriek agter die perseel toegemaak om die hout in te berg.

Hulle het teen gisteroggend reeds nuwe houtvoorraad ingekry en sou vandag ten volle operasioneel wees.

Ten tyde van die gesprek was die gebou en goedere se versekeraars se forensiese ondersoekers op die toneel om die oorsprong van die brand te bepaal.

Kyk video

Sien ook

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button