Fondse nodig om ‘n ‘engelkind’ van Komati te help
Die Bakker-egpaar van Komatipoort hoop om binnekort 'n kursus by te woon om hulle spesiale dogtertjie te help, maar het fondse nodig daarvoor.

KOMATIPOORT – Vir ‘n ouer is min dinge so skrikwekkend soos om te weet daar is iets met jou kind verkeerd, maar dat dokters die probleem nie kan diagnoseer nie.
Die Bakker-egpaar, Japie en René, spook nou al nege jaar om uit te vind hoe hulle hul dogtertjie, Rosa, kan help.
Sy is op 25 Junie 2008, op sewe maande, op Groblersdal as ‘n brugbaba gebore.
Ses weke na die bevalling het die egpaar se huisdokter Rosa ondersoek en vermoed dat sy nie ‘n normale baba is nie. Haar kop se omtrek was kommerwekkend klein en die gesin is na ‘n dokter in Middelburg verwys.
Dié dokter het groeivertraging gediagnoseer en ‘n sonar van haar skedel en borskas geneem.
Daarna het die Bakkers ‘n dokter by die Unitas Hospitaal in Pretoria besoek, waar Rosa verskeie bloedtoetse, X-strale en ‘n MRB ondergaan het. Die dokter het vermoed dat sy Angelman se Sindroom het, maar die uitslag van die toets was negatief.
Al raad wat die dokter kon gee, was dat die gesin altyd daar vir haar moes wees om haar met baie sorg en liefde groot te maak.
Hy het aanbeveel dat sy na ‘n babaterapiesentrum in Pretoria moet gaan.
Sy is geëvalueer, maar kon die sentrum nie gereeld besoek nie as gevolg van die groot afstand wat haar ouers moes aflê.
In die middel van 2009 het die Bakkers na Komatipoort verhuis en is besoeke aan die sentrum gestaak.
LEES: Get ready for an overnight marathon against cancer
‘n Familielid het die Bakkers van Dr Hein van Wyk van Witrivier vertel wat al met groot sukses stamselbehandelings gedoen het.
Hulle het hom in 2015 gaan spreek en hy het behandeling voorgestel. Daar was egter ‘n hoë koste daaraan verbonde en die Bakkers, wat nie ‘n mediese fonds het nie, het nie kans gesien om dit aan te pak nie.
Rosa is nou nege jaar oud en kan gemaklik sit, maar nie kruip of loop nie. Sy gebruik ‘n rolstoel om rond te beweeg. Sy neem alle voedsel per bottel in en dra steeds doeke. Tog is sy gelukkig, leef in haar eie wêreld, en is ‘n regte engeltjie wat maklik lag.

Daar is egter nou weer hoop op die mediese front vir Rosa en haar gesin. Hulle het onlangs van die Family Hope Sentrum in Johannesburg gehoor, wat wondere met gestremde kinders verrig.
Die Bakkers sal haar graag daar wil laat evalueer en kyk of sy gehelp kan word. Hulle hoop om die sentrum op 28 September te besoek en ‘n kursus deur Amerikaanse dokters by te woon. Die kursus kos egter oor die R30 000 ($2 400).
Die gesin hoop om met behulp of Helpende Hand se Onderberg-tak en skenkers uit die gemeenskap hierdie kursus te kan bekostig.
LEES: Samesmelting van twee takke laat Helpende Hand nou sterker staan
Hulle sal ook binne die volgende jaar fondse moet bymekaarmaak sodat Rosa ‘n histerektomie kan ondergaan.
Enigeen wat ‘n skenking aan die familie wil maak, kan dit in Solidariteit Helpende Hand se rekening by FNB met die verwysing OND01/Rosa inbetaal. Die rekeningnommer is 62331445503, met Centurion as tak en taknommer 261-550.
Navrae: Helpende Hand Onderberg se voorsitter Tienie Swart by 082-253-8965 of René Bakker by 081-518-0397.
