Die ekonomie is nie so sleg as wat jy dink nie
Beter dinge is op pad vir jou geldsake, sê ekonoom dr. Roelof Botha.
MBOMBELA – Moenie pak en Perth toe trek nie. Dinge is nie so erg soos jou beursie jou hierdie week, so knap voor betaaldag, laat glo nie. Inteendeel, sake is aan ‘t verbeter.

Ekonoom en besturende direkteur van die Gopa-groep, dr. Roelof Botha was die hoofspreker by die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) Mpumalanga en Kruger-Laeveldse toerisme- en sakekamer (KLCBT) se jaarlikse samekoms wat Dinsdag by Nou’s Toeka gehou is.
Sy praatjie was aan die hand van, “Sal Zuma en travante die ekonomie in ‘n resessie dompel?” Die kort antwoord is, “Nee”.
Suid-Afrika het een van die mees gediversifieerde ekonomieë van enige ontwikkelende land – 65% is dienste.

Botha dink dat goeie leierskap, slim regeringsbeleid en spanwerk al is wat nodig is om hierdie land te laat gedy. En al drie is om die draai – of ten minste moontlik.
Hoe dinge is
‘n Tegniese resessie is ‘n mite. Groei moet jaar op jaar vergelyk. In geen jaar kan Januarie met Oktober vergelyk word nie.

Die staat handhaaf ‘n betalingsbalans en die rand se waarde het die afgelope paar jaar verbeter. As enige geldeenheid daal, spring dit altyd weer terug – mits daar ‘n greintjie stabiliteit is. En dit het Suid-Afrika gewis.

Landbou dra opsigself net twee persent tot BBP by, maar sekondêre industrieë wat daaruit vloei, soos kosprosesseering, lewer ‘n massiewe bydrae:
“As jy met landbou sukkel, lol jy nie net met voedselsekuriteit nie, maar met die hele ekonomie.”
Die droogte is ook verby:
“Die grootste rede vir die (klein) verhoging in inflasie, was die droogte. Dit is duur om kos in te voer. Jy moet dit verseker, ensovoort.”
Botha is uitgesproke oor die Reserwebank se swak besluite. “Hulle het besluit, kom ons maak die repokoers hoër, om dit moeiliker vir mense te maak om hul huisverbande te betaal. Dan sal dit reën,” merk hy sarkasies op.
Wat nodig is:
Goeie leierskap
Watter een van die voorlopers in die stryd om Jacob Zuma as ANC-president op te volg, Nkosazana Dlamini-Zuma of Cyril Ramaphosa, in Desember wen, maak nie regtig saak nie – dit sal ‘n verbetering wees, aldus Botha. Ramaphosa is slim en Dlamini-Zuma respekteer die wet.
Slim beleid
Sedert 2009 is die gemiddelde tydperk wat ‘n direkteur-generaal in enige nasionale department by sy minister gebly het, ‘n geringe 14 maande. “En ons wonder waar beleidsonsekerheid vandaan kom.”
Spanwerk
Ooreenkomste en samewerking tussen die openbare en privaatsektor is nodig vir groei en dienslewering.

Wanbesteding in staatsagentskappe het die land die afgelope jaar baie geld gekos. Botha se argument is dat deur slegs dít wat deur PetroSA (R14,5 miljard) en plaaslike munisipaliteite (nagenoeg R16 miljard) wanbestee is, hok te slaan, jy 20% van die begrotingstekort kan uitwis.
Saam met dit, kon die R5,6 miljard wat SAL gemors het, 650 000 huise gebou en vir 10 000 mense werk geskep het. Dit is nie goeie nuus dat dit nie gebeur het nie, maar dit kán, en dit is een van die dinge wat Botha positief stem.
Suid-Afrika se grootste uitvoere haal al vir die eerste ses maande van die jaar beter pryse. Landbou en mynbou het dit gedra – en die uitkringeffek is van onskatbare waarde.




