Local newsNews

Wenvideo: Wildebees se geveg om uit krok-kake te kom

Danksy hul liefde vir tradisie en die Nasionale Krugerwildtuin het Mervin en Tokkie van Wyk onlangs 'n lekker meevaller met 'n video verdien.

WITRIVIER – Moenie vir Mervin van Wyk vertel dat tradisie uitgedien is nie, want vir hom het dit onlangs indirek R100 000 in die sak gebring toe hulle die video-afdeling van die TV-program 50/50 se Veldfokus 2017-kompetisie gewen het.

Ten spyte van aantreklike aanbiedings van die Nasionale Krugerwildtuin se eetplekke, glo hy daaraan om sy fles koffie en beskuit vir ontbyt en ‘n piekniekmandjie vir middagete saam te neem wanneer hy en vroulief Tokkie ‘n dagbesoek aan dié gunstelingbestemming van hulle bring.

So het hulle ‘n paar maande gelede, gewapen met piekniekmandjie, koffiefles en beskuit, een oggend die pad wildtuin toe aangepak. By Transport Dam is daar gestop en die koffiebekers uitgehaal. “Ons het graag aan die boonste punt van die dam parkeer omdat ons al twee keer ‘n luiperd daar gesien het,” vertel Mervin. Dié keer was daar egter net ‘n paar troppe zebras, rooibokke en wildebeeste te sien.

Tokkie vertel dat sy nog so van die wild sit en foto’s neem het, toe Mervin haar aandag op ‘n krokodil vestig wat skielik uit die water te voorskyn gekom en ‘n wildebees aan sy regteragterbeen beetgekry het. Sy sê dat sy dié keer gelukkig onthou het dat die kamera ook video kan opneem en onmiddellik oorgeskakel het. “Mervin was juis ‘n vorige keer vies omdat ek skoon van video vergeet het toe ons ‘n arend gesien het wat ‘n swart mamba vang en met een slag verorber,” lag Tokkie.

Vir ‘n paar minute het die krokodil en wildebees om die beurt die oorhand gekry. Terwyl die bees se desperate gebulk in hul ore weerklink het, het Tokkie egter die kamera laat rol.

Skielik het Mervin uitgeroep dat nóg twee krokodille op pad was, maar toe hulle nader kom, het die Van Wyks besef dis seekoeie. Oor die effense aarseling voordat die grootste seekoei tot aksie oorgegaan het, gee Mervin laggend sy eie weergawe: “Ek dog so by myself dat dit seker pa en seun is en hoor in my gedagtes hoe pa vir seun sê, ‘Watch vir dad,’ voor hy onverwags bo-op die krokodil spring!”

Die seekoei se aksie het die wildebees kans gegee om los te breek en hy is al hinkende die veld in met ‘n duidelik morsaf gebreekte been. “En ek dink die krok sit steeds in die modder vas,” lag Mervin oor dié se lot.

Nadat hulle video op YouTube gelaai is, waar dit sommer gou 3,5 miljoen keer gekyk en intussen as een van 2017 se 10 bestes aangewys is, is dit ook op National Geographic vertoon. En in Oktober het hulle dit vir die Veldfokus-kompetisie ingeskryf.

Skaars ‘n maand later het hulle gehoor dat dit ‘n finalis was en tydens ‘n onderhoud tuis het aanbieder Bertus Louw hulle ingelig dat hulle die wenners was.

Maar agter dié geluk sien die Van Wyks sommer twee wonderwerke ook. Slegs dae voordat hulle die goeie nuus gekry het, het hulle besluit om ‘n familielid wat swaargekry het, met geld te help en begin reël om ‘n deel van hul pensioenbelegging te onttrek. “Ons het Donderdag gehoor die geld is beskikbaar en Vrydag toe bel 50/50!” vertel hulle.

Om alles te kroon, het Mervin die geld wat vir die familielid bedoel was, per ongeluk na ‘n bankrekening van ‘n vreemdeling oorgeplaas. “Groot was my verbasing toe ‘n vrou uit Durban bel om te sê dat die geld in haar rekening beland het! Ons was oorstelp deur haar eerlikheid, want skaars ‘n uur later was die geld weer in my rekening en kon ek dit na die regmatige persoon oorbetaal.”

Maar die Van Wyks stem oor nog ‘n ding saam: Die moeilikste deel van alles was om sedert November tot die program einde Desember uitgesaai is, tjoepstil oor hul groot geluk te bly.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button