Volgende stap in Mienke se herstelproses steeds onseker
Daar is sprake dat Mienke binnekort óf huis toe óf na die pediatriesesorgsaal geskuif gaan word, maar volgens Ryno hang dit van 'n hele paar faktore af.

MBOMBELA – Na drie weke in intensiewesorg wag Mienke Mulder se ouers steeds op uitslae van verskeie toetse om te bepaal hoe hul dogter se herstel bewerkstellig kan word.
“Ons hou maar moed dat die dokters vir ons ‘n aanduiding kan gee oor wat presies hulle dink die oorsaak is dat sy sukkel om haar kos in te hou, want sy gooi nog baie op,” het Ryno, Mienke se pa gesê.
Volgens hom is haar dieet verander, en moet die gesin nou nog meer betaal vir haar melk en ander voeding.
Lees ook: KYK: Mienke Mulder nogsteeds in hoësorg na twee weke
“Ons het met een van die dokters gepraat en hy sê dat hy onder omstandighede tevrede is met Mienke se vordering, maar ons wil haar baie graag by die huis hê,” het Ryno gesê.
“Ons druk dat sy huis toe kom, want daar is maar baie kieme in die lug in ‘n hospitaal en ons sal haar graag weer by ons as gesin wil hê, maar tans is daar nog glad nie duidelikheid nie,” het hy gesê.
Dit volg na Mienke se ma, Verna ‘n week gelede terug is werk toe nadat sy ses dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring het en ‘n week by die huis moes aansterk weens haar hart wat onverklaarbaar gaan staan het toe sy vir Mienke gaan besoek het.
Lees ook: Mienke se ma se hart gaan staan
“Daar is tans min sekerheid in ons lewe rakende Mienke en waar sy die volgende paar dae of selfs weke gaan deurbring, maar ons vat dit dag vir dag en vertrou dat die regte ding sal gebeur,” het Ryno gesê.
“Ons is werklik opreg dankbaar vir almal se ondersteuning en gebede, en beleef die volgehoue ondersteuning as ongelooflik positief in hierdie moeilike tyd.”
Om die Mulder-gesin te ondersteun is lede van die publiek welkom om die Please Pray for Mienke Facebook-blad te besoek.
Lees ook: Mienke vorder goed, ma se hart gaan staan
