Local newsNews

Restaurantjie behou vir nou sy sambreel

Sophie's Bistro, die bekende tradisionele restaurant by Halls Gateway vrees dat hulle atmosfeer met die "moord" van 'n indringerplant wat al jare lank voor hulle perseel groei, kan verdwyn.

Die eienaar, Dries van Rooyen is dit eens dat dié Schefflera actinophylla, oftewel sambreelboom, deel van hulle beeld vorm en het intussen ‘n petisie teen die verwydering daarvan opgestel.

Altesaam 177 van sy gaste het die petisie geteken en die vrug daarvan is dat die boom vir eers veilig is.

Troos van der Merwe, eienaar van Fever Tree Kwekery wat na hierdie Halls-perseel omsien en wat die boom wou verwyder, het vir eers daarteen besluit. Hy voer egter aan dat die verwydering steeds van kardinale belang is.

Lees ook: Hele gemeenskap juig noudat veld skoon is

Hy hoop om ‘n ooreenkoms met die Van Rooyens aan te gaan.

Sy voorstel is om die plant in oorleg met Halls se bestuur met ‘n meer aanvaarbare inheemse spesie te vervang.

Hy sê hy is nie op die oorlogspad nie. Dit is bloot ‘n indringer wat nie daar hoort nie. Fever Tree by Halls bestaan reeds 13 jaar en in tyd is al die verklaarde onkruide (hoofsaaklik bome) stelselmatig verwyder en met inheemse spesies vervang.

“Sambreelbome word meestal binnenshuis geplant en soos hulle groter word, uitgeplant. Die bome groei uitstekend in die Laeveld en word kwistig deur voëls versprei omdat hulle bessies eetbaar is.”

Lees ook: Plan beraam om baken skoon te hou

“Ek, as ‘n verantwoordelike eienaar van ‘n instansie wat plante aan die publiek verkoop, is genoop om die publiek bewus te maak van indringerplante”.

“Ek het al talle klante gehad wat vra na die boom omdat daar een voor Sophie’s staan,” het Van der Merwe verduidelik.

“Die rede vir die beoogde verwydering van die boom is nie ‘n persoonlike vendetta teen die eienaars van Sophie’s nie, maar meer om ‘n positiewe beeld van geen verklaarde onkruide in en om die kwekery en die Gateway-sentrum te skep,” het hy afgesluit.

Lees ook: Vereniging wil verblyf vebeter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button