Liefde vir medemens dryf aspirant Mev. Mpumalanga
Na drie jaar se aanpor het druk van haar vriendinne en haar man die oorhand gekry en het sy op die laaste nippertjie vir die kompetisie ingeskryf.

Hazyviewers wat graag vir Hilary van der Berg wil ondersteun in haar veldtog om as Mev. Mpumalanga 2018 gekroon te word, kan solank 1 September as belangrike datum op hul kalenders afmerk.
Daardie aand bied sy ’n kaas-enwyngeselligheid by Little Pilgrims (die ou Pioneer-restaurant) op die dorp aan.
Dit belowe om ’n lekker kuieraand te wees met ‘n geleentheid om te dans. Kaartjies kos R280 per paartjie en daar is plek vir ongeveer 40 paartjies.
Die kos en drank vir die aand word goedgunstiglik deur die plaaslike Checkers geborg.
Van der Berg het onlangs ’n eerste, baie suksesvolle ma-en-dogterdag by Meat & Coffee aangebied, waar die bes geklede en gegrimeerde ma en dogter aangewys is. Lizandi de Beer en Caren Myburgh het haar met dié geleentheid bygestaan.
Die Gesig van Hazyview-kompetisie wat sy beplan het, moes sy ongelukkig voorlopig afstel.
Van der Berg vertel dat sy baie gewik en geweeg het voordat sy vanjaar uiteindelik vir die kompetisie ingeskryf het. “Ek is eintlik maar ’n regte rabbedoe wat eers na my troue ’n bietjie meer in fyner en vrouliker dinge begin belangstel het,” lag sy.
Uiteindelik, na drie jaar se aanpor, het druk van haar vriendinne en die ondersteuning van haar man die oorhand gekry en het sy op die laaste nippertjie vir vanjaar se kompetisie ingeskryf.
Dié ma van twee (haar dogtertjie is nou ’n jaar oud en haar seuntjie vier) vertel dat haar eerste onderhoude met die beoordelaars en vorige Mev. Mpumalanga haar amper weer van plan laat verander het. “As sentrumbestuurder van Hazyview Junction is ek gewoond om met die publiek te kommunikeer en voor mense op te tree, maar dit het vir my gevoel of hulle my bedoelings uitmekaar probeer trek!”
Haar liefde vir mense en die genot wat sy daaruit put om ander te help, het haar egter laat deurdruk.
Nogtans was sy verbaas toe sy in kennis gestel is dat sy een van 14 finaliste was. “Ek kon my ore nie glo toe my vriendinne my begin bel en gelukwens nie en het dit eers geglo toe ek self my naam onder die finaliste sien.”
Van der Berg woon al sowat 15 jaar in Hazyview. Haar ouers woon ook op die dorp en sy is vasbeslote om op hierdie manier iets vir haar gemeenskap te beteken. Daarom probeer sy in alle ywer om die R10 000 wat van haar as finalis verwag word, voor die tweede week in Oktober in te samel.
Haar laaste poging om die gemeenskap die geleentheid te gee om hiertoe by te dra, is dan ook vir 6 Oktober gereël. Daardie aand bied sy ’n inry-fliek by Hazyview Junction aan. Dit kos R150 vir ’n gesin van vier.
Teen daardie tyd moet sy ook ’n portefeulje van haar pogings en borgskappe (waarvan sy nog heelwat nodig het) voorlê en sal sy aan nog ’n reeks onderhoude blootgestel word.
Die wenner word op 3 November aangewys.
