Local newsNews

ALM-stigting ‘n lig in die donker vir gebrokenes

Hierdie stigting reik 'n hand uit na dié wat sukkel in die gemeenskap.

MBOMBELA – Vir Dirk Haywood was die All Life Matters (ALM)-stigting ‘n lig in die donker. Haywood het drie jaar gelede weggeraak toe hy vanuit Saoedi-Arabië vir sy kinders kom kuier het. Hulle vermoed hy het ‘n beroerte gehad en het min na geen herinneringe van sy lewe daar.

Sy kinders het hom opgespoor en nadat hy by verskeie familielede gebly het, het ALM hom verlede November ingeneem.

Haywood is een van ongeveer 15 inwoners wat tans op die ALM-terrein woon. Dit is ‘n huis vir haweloses en heenkome vir dié wat al baie sakke sout in die lewe moes opvreet.

Dirk Haywood en sy dogter Leandri Haywood by ALM.

“Dirkie het baie gesukkel toe hy hier aankom, maar nou begin hy al onthou,” sê Marius du Plessis een van die direkteure en stiger van hierdie maatskappy sonder winsbejaag. Hulle het sedert verlede Oktober mense begin inneem. Du Plessis was jare lank ‘n besigheidsman, “maar ek het myself gevind en besluit dit is tyd om terug te gee.”

Hy het die terrein van Ranch Placid gekoop en met sy visie begin om aan mense ‘n tweede kans te gee en alhoewel daar geen krag en min water is nie, gaan dinge goed.

LEES OOK: Nuwe raad wil jeug op voete kry

“Die plek het agt jaar leeg gestaan en ons probeer dit nou regmaak. Dit is ‘n groot projek, maar ons is baie bereidwillig,” het Lukas Kruger, die bestuurder van die stigting, gesê.

Hulle maak tans gebruik van sonkrag, bou varkhokke, doen opknappings aan die blyplekke op die erf en is ook besig om ‘n dam te bou om hul waterprobleme op te los.

“Die inwoners help om die plek reg te kry. Ons wil hulle laat voel asof hulle ‘n doel het en ons doen ook beradingswerk. Dit is nie ‘n aftreeoord nie en ons wil hulle sover moontlik rehabiliteer,” het Du Plessis gesê.

Die nuwe dam is goed aan die gang.

Hulle het vir Dirk gehelp om aansoek te doen vir ‘n SASSA-kaart en help hom ook met klere en kos. “Ons kry geen finansiële bystand nie en inwoners betaal soos wat hulle kan. Daar word wel boek gehou van alledonasies wat ons ontvang,”het Kruger gesê.

Du Plessis het beslis sy hart vir die stigting gegee. “Wat ek kan doen, doen ek,” sê hy. Vir skenkings kan Du Plessis gekontak word by 079-460-1805 of md@almf.co.za.

LEES OOK: So was die lewe meer as 50 jaar gelede

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button