Brief geskryf deur lid van die publiek rakende dieremishandeling
Is hoë veaarts kostes die rede dat diere eerder uitgesit word? Anoniem skryf sy opinie

Anoniem skryf:
Ek wil graag reageer op die berig “Geen menslikheid teenoor diere” wat in 14 September se uitgawe van Steelburger/Lydenburg Nuus verskyn het.
Ek steun almal wat teen mishandeling van diere is, veral as die eienaars geen gevoel het nie.
Verlede week het my honde gespeel en die groot hond het per ongeluk die kleintjie raakgebyt wat veroorsaak het dat sy ogie heeltemaal uit die oogkassie kom. Ek het dadelik ‘n veearts in Burgersfort geskakel. Ek is gevra om die hondjie te bring want sy ogie sal verwyder moet word, maar die kostes gaan R2 000 tot R2 500 wees. Ek het gevra of ons reëlings kan maak met die afbetaling, waarop hul antwoord was dat hulle nie op krediet werk nie. Later die middag het ons die hondjie na ‘n ander veearts in Burgersfort geneem. Haar antwoord was ons kan wel R1 300 neersit as ons een van hulle kliënte is – wat ons nie is nie.
Die volgende dag het my swaer na ‘n veearts in Lydenburg gegaan om uit te vind of ons gehelp kan word, maar ons het min of meer dieselfde antwoord gekry.
Ons het op 19 September die hondjie gestuur om ander maniere te kry om hom te red. ‘n Veearts in Lydenburg het gesê dit gaan ongeveer R4 500 kos om die ogie te verwyder asook die abses agter die ogie, maar ons sal ‘n groot deposito moet neersit. Ons besluit was toe om die hondjie se seer te spaar en het hom laat uitsit.
Nou vra ons met trane in ons oë: Moes ons die besluit neem om die hondjie uit te sit omdat ons nie ‘n plaas se geld het om dit kontant te laat doen of die deposito te betaal nie? Al die veeartse wat ons gekontak het, was nie bereid dat ons die rekening afbetaal nie. Is dit nie ook ‘n mate van dieremishandeling nie?
Na al ons probeerslae was daar wel goeie mense wat bereid was om die hondjie te help en die deposito te betaal vir die operasie, wat hopelik goeie resultate sal hê.
Ons wil net graag dankie sê vir almal se hulp en ondersteuning.
Veearts:
Elke veearts het sy eie beleid as dit kom by skuld maak.
Dr. Marietjie Malan meen dat sy slegs ‘n R300-deposito vra voor sy met behandeling begin. Sy sê ook dat ‘n reëling na die tyd met ‘n kliënt getref word om die uitstaande bedrag maandeliks terug te betaal. “Ons is defnitief nie onredelik nie en het dit al vantevore gedoen,” vertel Malan.
