Mienke Mulder is volgens die Facebook-blad, Please pray for Mienke, weer gister in die hospitaal opgeneem.
Haar pa, Ryno Mulder, het vanoggend geskryf dat sy dogtertjie “glad nie goed lyk nie.”
Laevelder het voorheen berig dat Mienke sewe maande oud was toe sy verlede jaar in Mbombela aan ‘n bottel gestik het.

Sy het ernstige breinskade opgedoen en moes sedertdien intensiewe mediese behandeling ontvang. Weens die breinskade kan sy ook nie sluk nie en moet sy deur ‘n buis in haar tragea voeding ontvang.
Die gesin het sedertdien na die Oos-Rand terug verhuis.
LEES OOK: Mienke se pad na herstel nog lank
“Mienke is baie pap en is gedehidreer. Sy het diarree en koors wat nie wil breek nie. Sy kry ook erg stuipe, verstik kort-kort en hou by tye op om asem te haal,” het Ryno geskryf.
Volgens hom het die dokters bloedtoetse gedoen, maar hulle wag nog vir die uitslae. “Die dokter vermoed sy het een of ander virus maar sal dit môre kan bevestig,” het hy geskryf.

Om op die hoogte te bly van die nuutste verwikkelinge, volg gerus die Facebook-blad.
Daar is op die blad gevra dat die ouers se privaatheid gerespekteer moet word in hierdie tyd.
LEES OOK: Mienke Mulder is terug by die huis
