Eerste buiteluglekspo vir die streek vandag by Robbies
Lede van die Laeveld se 4x4-Klub sal teenwoordig wees om entoesiaste touwys te maak.
‘n Buitelugekspo word vandag (Saterdag 29 September) deur Rob Legacy by Hoërskool Rob Ferreira aangebied.
Dit sal die eerste van sy soort in die Laeveld wees.
Rob Legacy is deur ‘n groep pa’s van die skool tot stand gebring en samel geld in ten einde noodsaaklike fasiliteite by die skool aan te bring wat nie deur die onderwysdepartement voorsien word nie.
Die dag beloof om pret, vermaak en inligting aan buitelugliefhebbers te verskaf met viertrekvoertuiguitstallings, ‘n vlooimark, springkastele vir kinders en ‘n baan waar belangstellendes die viertrekvoertuie op die proef kan gaan stel.
Lede van die Laeveld se 4×4-Klub sal teenwoordig wees om entoesiaste touwys te maak.
Toegang tot die terrein kos R100 vir die dag en sluit al bogenoemde aktiwiteite in, sowel as musiekkonserte deur Bok van Blerk, Geraldine Scholtz, Amy-Lee en Thando.
Deur die loop van die dag sal daar natuurlik genoeg eet- en drinkgoed ook te koop beskikbaar wees.
Amy-Lee en Thando tree vanaf 16:00 op, Geraldine vanaf 17:00 en om 19:00 kan mense regskuif om na Bok van Blerk te luister.
