Local newsNews

Plaaslike klankman se prentjies vertel meer as wat woorde ooit kan

Gray is 'n kranige karikatuur-tekeneaar, ondanks sy uitdagings om 'n idee in sy kop op papier uit te beeld.

MBOMBELA – Vir sommige is disleksie ‘n onoorkomelike struikelblok. Vir Donald Gray, ‘n plaaslike 33-jarige klankman van Radio Laeveld was dit egter ‘n openbaring van ‘n ongelooflike talent.

Van die karaktereienskappe van iemand met disleksie is gewoonlik depressie, angstigheid, frustrasie, vernedering, aanstoot en desperaatheid. En hoe meer hulle lees, hoe erger raak die gevoel van verwarring, en soms begin hulle elke dag met lae selfvertroue.

Vir Gray het dié gevoel egter daartoe gelei dat hy ‘n ongelooflike gawe ontdek het. Gray is ‘n kranige karikatuur-tekeneaar, ondanks sy uitdagings om ‘n idee in sy kop op papier uit te beeld. Boonop is hy op ‘n jong ouderdom met AGHS of aandagsgebrek-hiperaktiwiteitstoornis gediagnoseer.

Dit wil sê hy was ‘n woelige, wriemelende klein windorrel, met diabetes óók.

Laasgenoemde is die inspirasie van ‘n kinderboek waaraan hy tans werk. “Ek wil vir kinders wat deur dieselfde uitdagings as ek gaan, uitbeeld wat presies met hulle aangaan, in die vorm van strokiesprente,” het hy aan Laevelder gesê, terwyl hy binne minute ‘n skets van homself teken – die hoofkarakter.

Sodra hy die skets klaar geteken het, voer hy dit in op ‘n rekenaar en voltooi dit in ‘n program genaamd SketchBook Pro.

“As ek op 19-jarige ouderdom nie verstaan het wat dit behels om diabetes te hê nie, hoe moet ‘n kind van twee tot drie jaar?” vertel hy is die inspirasie van sy boek.

“As jou suiker hoog is, is jy boefoeterd, so suiker gaan ek as ‘n monster uitbeeld. Hoe beveg mens dié monster? Met insulien natuurlik, so insulien sal dan die held in die storie wees en ek die hoofkarakter. In die boek beeld ek myself uit as ‘n jong seun.”

Sy grootste inspirasie was sy oupa, wat ‘n skilder was. Met sy oupa se hulp en video’s op YouTube kon hy homself leer teken om homself te vermaak. “Ek was en is steeds ‘n bietjie van ‘n alleenloper,” het hy gesê. Sy vernuf is verder verskerp deur ‘n kursus by Intec Kollege in filmredigering en regie, sowel as 3D-animasie, en is ‘n groot aanwins vir die span by die radiostasie.

Met die boek is hy een stappie nader aan sy droom om animasierolprente te vervaardig.

Volg Donald se Instagram op @kaltls.

Lees ook: Só kry mens die Laeveld aan die Rock

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button