Vier vandag geestesgesondheid
Leer meer oor geestesversteurings en hoe om dié wat daaraan ly te ondersteun.

MBOMBELA – Die woord “geestesgesondheid” dra steeds ‘n negatiewe stigma. Dit is juis hierdie stigma wat Wêreldgeestesgesondheidbewusmakingsdag wil afbreek.
Die dag word op 10 Oktober gevier en het nie net ten doel om mense op te voed en bewus te maak van geestesgesondheid nie, maar ook ‘n platvorm te skep vir dié wat met geestesgesondheid leef.
“Selfs hier in die Laeveld het mense steeds ‘n stigma rakende geestesgesondheid,” sê Hein Hofmeyr, kliniese sielkundige by Akeso Kliniek, Nelspruit.
LEES OOK: Monday Motivation: 5 important tweets around Mental Health
Dié kliniek, wat op geestessiektes en verslawings, fokus is die enigste van sy soort in Mpumalanga. Hier help hulle deur gebruik te maak van psigiatrie opgeleide staf om elke pasient te ondersteun en gestruktueerde groepe te hardloop waarby pasiënte meer kan leer oor hul emosies, gedrag en siekte. Hulle doen verder gereeld toesprake en bewusmakingsveldtogte om gemeenskaplede te help om met waardigheid te kan leef.

Volgens Hofmeyr is depressie een van die siektes wat hulle die meeste teekom. Hy beskryf hierdie gemoedversteuring as ‘n toestand waarby mense depressief voel, wat beskryf kan word as om gevoelloosheid te ervaar of asof daar ‘n leemte of gat in jou lewe is. “Dis anders as om net ‘n af dag te hê. Daarom skryf ek voor dat mens moet vir ten minste twee weke tot ses maande die volgende simptome in jou lewe identifiseer,” sê Hofmeyr.
Hy lys die simptome as volg:
• Ontrekking of isolering.
• Anhedonia – Dit beteken ‘n persoon stel nie meer belang aan al die goed waaraan hulle voorheen belang gestel het nie
• Algemene moegheid of verlies van energie
• Konsentrasie probleme met vergeetagtigheid asook besluitloosheid
• ‘n Negatiewe uitkyk op die lewe.
• Slaap – en eetversteurings.
• Fisiese simptome soos lyfseer en kroniese hoofpyne
• Vreemde gedrag soos uitermatige irritasie of aanhoudende huil.
• Selfmoorddenke.
As deel daarvan om die stigma te breek oor geestesgesondheid en depressie sê Hofmeyr “Dit is wel normaal om so te voel. Jy is nie alleen nie. Daar is ander wat dieselfde voel as jy en dit is behandelbaar. Dit is belangrik om depressie en ander geestessiektes te normaliseer sodat meer mense die stap kan neem om vir hulp te vra.”
LEES OOK: Suicide in South Africa: 23 People die every day
Hy moedig familie of vriende van dié persoon aan om hulle by te staan.”Om goed vir hulle te sê soos ‘dink net positief” of ‘ruk jou reg’ is ‘n groot fout,” sê Hofmeyr. Hy moedig hulle aan om empaties te wees en die persoon te ondersteun deur hierdie moeilike tyd.

Wanneer ‘n persoon dink dat hulle aan hierdie siekte ly is dit belangrik om met vriende of familie daaroor te gesels. Wanneer jy voel dit werk nie, moedig Hofmeyr aan dat jy jou algemene praktisyn gaan sien of ‘n sielkundige gaan spreek.
Wees bewus van ander en jou eie geestesgesondheid hierdie Wêreldgeestesgesondheidbewusmakingsdag en help om die stigma te breek.
