Nuwe herrie oor vuurwapens
Polisie bevestig voorgestelde wysiging op Vuurwapenwet is eg.

MBOMBELA – Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vuurwapeneienaars (Gosa) het ‘n beroep op alle vuurwapeneienaars gedoen om teen die nuutste voorgestelde wysigings op die Vuurwapenwet, wat vandag vrygestel is, kapsie aan te teken.
Sommige rolspelers het die dokument se egtheid in twyfel getrek, en vrae geopper dat dit ‘n interne SAPD-dokument is, maar die nasionale polisiewoordvoerder, brig. Vishnu Naidoo het by navraag bevestig dat dit inderdaad ‘n voorgestelde wetsontwerp is.
Hy wou egter geen verdere kommentaar daaroor lewer nie. Voorsitter van Gosa, Paul Oxley voer aan dat die voorgestelde wysigings deel 13 en 14 van die huidige wet sal afskaf, wat onder meer beteken dat selfverdediging nie meer as ‘n geldige rede aanvaar sal word om ‘n vuurwapen te besit nie.
LEES OOK: Sections 24 and 28 of the Firearms Act found “Unconstitutional”
Gosa sê verder dat die voorgestelde wysigings, sou dit deurgevoer word, sportskieters tot ‘n maksimum van twee handwapens sal beperk, en alle eienaars tot ‘n totaal van agt vuurwapens.
Aansoekers sal voorts glo ook mediese sertifikate moet lewer en groenlisensies, wat lewenslank geldig is, sal aan bykomende beperkings onderwerp word. Boonop sal dit dit baie moeiliker maak om alle semi-automatiese haelgewere and gewere te bekom.
Oxley voer aan dat vereiste mediese sertifikate mense se grondwetlike reg tot privaatheid sal skend. Hy voeg by dat die voorgestelde balistiese databasis al as ondoeltreffend bewys is.
SIEN OOK: Community police forum meeting highlights the use of firearms
Gosa is woedend. “SAPD het nou weer eens bewys dat hulle nie ernstig is oor Suid-Afrikaners se lewens nie,” skryf Oxley in ‘n verklaring.
“Ons het ‘n reg op lewe. Misdaad neem toe teen ‘n angswekkende tempo en die misdadigers word al hoe meer geweldadig. Om ‘n manier weg te neem vir ons om onsself effektief te verdedig sal tot ‘n toename in misdade teen alle Suid-Afrikaners lei en ons kan dit nie toelaat nie.”
Gosa het alle wetsgehoorsame vuurwapeneienaars aangemoedig om aan die voorsitter van die polisie portefeuljekomitee te skryf by fbeukman@parliament.gov.za.
Naidoo wou nie hierop reageer nie. “Eerstens is dit ‘n voorgestelde wysiging wat kommentaar en konsultasie en insette vra,” het hy vir Laevelder gesê. “Tweedens het ons tans ‘n saak in die hof met Gosa oor besware.”
SA Jag wou nie kommentaar lewer voordat hulle die wetsontwerp behoorlik kon bestudeer nie.
