Local newsNews

Konsert samel duisende vir Komati-voedingskema in

Geen kind hoef by Komatipoort Akademie honger te ly nie, danksy meer as R34 000 wat Saterdagaand tydens 'n optrede van Backstage vir die voedingskema ingesamel is.

KOMATIPOORT – Selfs meer kinders kan hulp van Komatipoort Akademie se voedingskema ontvang nadat meer as R34 000 Saterdagaand tydens hul optrede ingesamel is.

Die voedingskema help 20 en 30 kinders elke dag met kos en ander behoeftes.

Saterdagaand was die eerste keer in 18 maande wat Backstage in hul tuisdorp opgetree het en hulle het besluit om terselftetyd die gemeenskap te help.

LEES: Backstage to release new album with original songs

Hulle het Komatipoort Akademie se skoolhoof, Ormond Lombard en sy vrou Lydia wat die voedingskema bedryf, genader. ‘n Lys borge, insluitend Mascor Caltex en Fresh Stop, Henden Ice en BUCO Komatipoort het die projek ondersteun.

Daar is ‘n groot tent by die Hervormde Kerk opgeslaan om die reën te keer en gaste het tot laataand gesellig by tafels gesit en kuier.

Plaaslike sangeresse Sanet van Greunen en Nastassja het eerste ‘n draai op die verhoog gemaak en die gehoor met bekende treffers vermaak.

Monique Lowther, die groep se bestuurder en bemarker, het oor Backstage en hul suksesse gesels en ook almal bedank wat die geleentheid ondersteun het.

Daarna was Backstage aan die beurt en het die gehoor saamgesing, gedans en geheadbang op bekende rocktreffers asook ‘n paar van die groep se meesleurende oorspronklike liedjies.

Gedurende die aand het Stoep Café, een van die borge, heerlike jenewer-drankies en eetgoed vanuit hulle kleurvolle stalletjie verkoop.

Daar is ook ‘n veiling en lukrake trekkings gedoen en ‘n paar besighede en persone het nog skenkings, soos ‘n groot vrieskas, aan die voedingskema gemaak.

Lydia, wat toerisme en geografie vir die senior hoërskoolleerlinge aanbied, vertel dat die skenking ‘n groot verskil in baie kinders en gesinne se lewens gaan maak.

Sy bedryf sedert 2009 die skema, wat gegroei het van eers net twee boeties kosgee tot ‘n projek wat help waar ook al leerlinge nood het.

Lydia sê dat die projek ‘n roeping van God is en dat sy dit tot sy verheerliking doen. “Die Here sorg altyd dat daar nuwe en presies die regte skenkings is,” sê sy.

Benewens broodjies vir pouse, kry die groepie laerskool- en hoërskoolleerlinge ‘n bord gekookte kos ná skool voordat hulle huis toe gaan.

Die onderwysers help haar deur behoeftige kinders te identifiseer en die kos op ‘n taktvolle wyse uit te deel.

LEES: Belgian students bring expertise to Komatipoort schools

Sy het ook onder die leerlingtal ‘n hele paar getroue helpers soos Jade van Dyk, Emke Vorster, Queste Delport en Dylan O’Reilly wat as die “Broodjiebende” bekendstaan en sakkies regsit en aflewerings doen.

Lydia vertel dat sy gereeld items van kinders of onderwysers vir die skema op haar tafel vind. Sy maak en verkoop ook lekkernye om die koskas aan te vul.

Die gemeenskap steun ook die projek met verskeie skenkings, wat sorg dat Lydia kinders met ander daaglikse behoeftes soos elektrisiteit, medisyne en toiletware kan help.

Caroline O’Reilly help ook baie as Lydia se skakel met die gemeenskap en bekom gereeld skenkings.

Voor vakansies probeer Lydia ook altyd om kospakkies saam met die kinders te stuur, sodat daar darem iets te ete by die huis is. Behoeftige gesinne word ook uit die koskas gevoed.

LEES: Kinders van Komati ontdek hulle gholftalent

Lydia streef daarna om ‘n liefdevolle omgewing vir alle kinders te skep en ook na hulle emosionele welstand om te sien. Sy glo dat haar agtergrond in die polisie en betrokkenheid by die kinderbeskermingseenheid haar goed hiervoor voorberei het.

Sy vertel dat sy ‘n hele netwerk in die gemeenskap het wat kan ingryp met ‘n ernstige geval.

Lydia en Ormond bedank namens die skool almal wat die skema so ruimhartig ondersteun en verseker dat dit voortleef.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button