‘n Boodskap die hele pad van Oostenryk af
Bekende operasanger Johanni van Oostrum is met Hoërskool Nelspruit se erepenning van die jaar bekroon. Dié toekenning word jaarliks aan 'n oudleerder oorhandig wat in 'n sekere gebied uitsonderlik presteer.
MBOMBELA – Hoewel sy nie die geleentheid self kon bywoon nie, het sy ‘n stemboodskap vanuit Oostenryk gestuur waar sy gesê het dat dit ‘n heerlike verrassing was.
“My liefde en belangstelling in musiek is op skoolvlak geprikkel en aangewakker. Dit is ‘n eer om die toekenning te ontvang en ek is opreg dankbaar daarvoor.”
Van Oostrum, wat in Weimar, Duitsland bly, het in 1988 by NHS gematriklueer. Sy was toe ook hoofmeisie. Sy het die skuif oorsee gemaak om haar passie vir musiek uit te leef en het al verskeie titelrolle in operas van Mozart, Wagner en Strauss vertolk.
Van Oostrum het in 2011 haar debuut by die Nederlandse Opera in Amsterdam, onder leiding van Sir Simon Rattle in die rol van Marschallin in Richard Strauss se Der Rosenkavalier gemaak.

Sy het ook die internasionale 2005 Nederlandse Vokale kompetisie gewen en ook in 2009 met die titel in die solo-afdeling van die Oratorio Society in New York weggestap het.
Sy was bevoorreg om destyds deur Suid-Afrika se operadiva, dr. Mimi Coertse onder die vlerk geneem te word.
As lid van die Black Tie Ensemble het die sanger die geleentheid gekry om haar vokale repertoire aansienlik uit te brei.
Verlede jaar het sy in haar eerste optrede in Noord-Amerika as Almaviva in Mozart se Le nozze di Figaro verskyn.
Sy het haar debuut in Kaapstad as Senta in Wagner se Der Fliegende Holländer gemaak waar sy ook die Fleur du Cap-teatertoekenning ontvang het.
Haar toekoms lyk blink met onder andere drie hoofrolle: die titelrol in Richard Strauss se Salome in Oostenryk, as Marietta in Die tote Stadt in Frankryk en as Agatha in Der Freischütz in Frankryk, België, Oostenryk en Duitsland.

