Local newsNews

Komati-uitblinkers kry arms vol trofeë by prysuitdeling

Hoërskoolleerlinge van Komatipoort Akademie is Maandag vir hul prestasies en harde werk by die skool, op die sportveld en verhoog beloon.

KOMATIPOORT – ‘n Hele paar leerlinge is Maandagaand met arms vol trofeë en ‘n sak vol sertifikate na afloop van Komatipoort Akademie se hoërskoolprysuitdeling huis toe.

Past. Billy van Niekerk van die Gateway Gemeenskapskerk het die geleentheid met Skriflesing en gebed geopen en benadruk dat daar iets kosbaars in elkeen is. Hy het die belangrikheid van familie en ‘n fondament wat op Jesus Christus, die Rots, gebou is, beklemtoon.

LEES: Konsert samel duisende in vir Komati-voedingskema

Skoolhoof Ormond Lombard het gaste vertel dat dit die gemeenskap se verantwoordelikheid is om jongmense met integriteit, beginsels, vertroue in God, omgee vir ander, opoffering en leierskap te kweek. “Hulle moet hulle name op mense se harte graveer, nie op marmergeboue nie,” het hy gesê.

Leerlinge is beloon vir hul prestasies in kultuur en sport en die beste akademiese leerlinge in elke vak en graad is ook aangewys.

Theo Preller, ‘n gr. 8-leerder het met ‘n rits vaktoekennings asook die beste prestasie in redenaars gespog.

Theo Preller het ‘n hele paar akademiese toekennings ingepalm.

Die hoërskool se twee duxleerlinge was Zaahra Ameer (gr. 9) en Paulo Goncalves (gr. 12).

Paulo het ook die FAK Afrikaanse Wisseltrofee met Eghardt Maritz gedeel. Hy is ook as die swemmer, tennisspeler, gholfspeler en mees veelsydige gholfspeler van die jaar aangewys.

Dané Horn het die trofee vir vroulikheid ontvang en was die beste presteerder in die eisteddfod se musiekafdeling, asook die veelsydigste eisteddfodpresteerder.

Dané Horn ontvang die trofee vir eisteddfod-prestasies by Ormond Lombard.

Sethu Mathebula was die beste seunsatleet en Nobuhle Sibisi die netbalspeler van die jaar.

Dominique van der Westhuizen het ook ‘n paar trofeë ingepalm – beste dogtersatleet, beste hokkiespeelster en sportdogter van die jaar.

WG Engelbrecht was die beste presteerder in voordrag, beste hokkiespeler, krieketspeler van die jaar, asook die sportseun van die jaar. Dieter Diedericks is gekies as die tweekampatleet van die jaar.

WG Engelbrecht het ‘n lys toekennings ontvang.

Alexander Swanepoel is voorspeler en rugbyspeler van die jaar en Jessica Muller, die skaakspeler van die jaar.

Die skoolhoof het die laaste twee toekennings van die jaar self uitgedeel. Die Vasbyttrofee is aan Alexander Swanepoel en Chantoné van der Merwe toegeken en die Hoof se Toekenning aan Paulo en Dominque van der Westhuizen.

Kyk na foto’s van die toppresteerders hier.

Die aand is afgesluit met die bekend-stelling van die nuwe hoofleiers, Marné Vermaak en Tiaan du Pont, en onderhoofleiers, Tanya Theunissen en WG Engelbrecht.

LEES: Komati-matrieks pronk in pragtige uitrustings by afskeid

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button