Tweede spoedkamera geteiken
Dit is nie bevestig of dit dieselfde mans was wat die eerste kamera met 'n petrolbom bestook het nie.

ROCKY DRIFT – Vermoedelik dieselfde kwaaddoeners wat verlede week een van die spoedkameras op die R40 met ‘n petrolbom bestook het, het Sondag weer toegeslaan.
Spoedkameras wat lewens kon red, geteiken
Die kameras is onlangs tussen Witrivier en Mbombela aangebring, en het tot op hede nagenoeg 17 000 spoedvrate aan die pen laat ry.
Twee mans het Dinsdag die kamera wat op Mbombela se rigting spoed vang, met ‘n petrolbom bestook en is op heterdaad betrap toe hulle die tweede een probeer verwoes het.
“Hi-Tech en J&M het verlede Dinsdag tegelykertyd op die toneel afgekom, maar die mans het laat spaander en ‘n petrolbom en ‘n koevoet agtergelaat,” het Jchaan de Beer, operasionele bestuurder van Hi-Tech Witrivier en Hazyview gesê.

Die erg beskadigde kamera is intussen verwyder, glo om herstel te word. Maar skaars ‘n week later is dieselfde mans glo terug om die onafgehandelde daad te voltooi.
“Hierdie keer was hulle egter in ‘n wit Volkswagen Polo sonder nommerplate. Dit is nie bevestig of dit dieselfde mans was nie,” het De Beer gesê en vertel dat hulle nog voor hulle skade aan die ander kamer kon rig, betrap is.
“Twee kannetjies gas wat gebruik word om aanstekers te hervul, met ‘n bomklapper tussenin is op die toneel gevind,” het hy gesê.
Nog geen arrestasies is gemaak nie. Die provinsiale departement van veiligheid en sekuriteit se LUR, Pat Ngomane het motoriste versoek om na vore te kom met enige inligting wat kan help om die vandale vas te trek.
